.

Die fundamentalisme van Angus Buchan en sy kritici: Oor die armoede van die Afrikaanse godsdiensgesprek

Deur Prof. Johann Rossouw op 1 Desember 2017

.

Godsdiens bly 'n intense onderwerp van bespreking in die Afrikaanse wêreld. Dit kan gesien word in die reaksie op Angus Buchan se It's Time-gebedsbyeenkoms, die komende hofsaak oor godsdiens in openbare skole en Vincent Brümmer se akademiese artikel oor uitverkiesing en evangelikaalse spiritualiteit in Suid-Afrika – om maar enkele voorbeelde uit die onlangse verlede te noem. In hierdie opstel sluit ek by hierdie gesprek aan deur te begin by Buchan se gebedsbyeenkoms, maar ook deur enkele breër temas in die Afrikaanse godsdiensgesprek aan te raak.

1.  Buchan se gebedsbyeenkoms

Afgesien van 'n twis oor hoeveel mense nou eintlik die byeenkoms bygewoon het, is dit waarskynlik die grootste byeenkoms nog in die geskiedenis van die Vrystaat. Die byeenkoms was baie vinnig en besonder goed georganiseer en volgens berigte en getuienis daaroor 'n grootse ervaring vir die aanwesiges. Uit Buchan se oogpunt was die gebeure doodgewoon 'n wonderwerk, en dit mag inderdaad so wees. Op 'n klankgreep van sy boodskap wat Monitor op Maandagoggend 23 April op RSG uitgesaai het, het Buchan met die grootste sekerheid aangekondig dat Suid-Afrika eersdaags 'n Christelike regering sal hê. Die tyd sal leer of hy, met respek, reg gehoor het.

Anders as wat dikwels in openbare Afrikaanse godsdiensgesprekke te kenne gegee word, gaan die Christendom nie slegs oor geloof nie, maar ook oor die rede. Een van die klassieke Christendom se grootste prestasies was om die aansprake van die rede met die aansprake van die geloof te versoen. Talle klassieke Christelike filosowe wys dan ook daarop dat wanneer die mens sy of haar rede inspan, hy of sy ook besig is om die beeld van God te verwesenlik, aangesien die menslike rede 'n goddelike gawe is. Gevolglik behoort Christene dus ook nie daarvan terug te deins om redelik te besin oor Buchan se gebedsbyeenkoms nie.

Ongeag nodige kritiek op Buchan se byeenkoms wat hier onder aangeroer sal word, moet vanuit 'n Christelike oogpunt daarop gewys word dat om Christene van oor die hele land op inklusiewe wyse op te roep om byeen te kom en vir Suid-Afrika te bid, lofwaardig is. Ongeag presies hoeveel mense vir die byeenkoms opgedaag het, bly die feit dat slegs Christelike byeenkomste sulke getalle mense in Suid-Afrika trek, waaronder die jaarlikse ZCC-Paasbyeenkoms die knewel is. Of 'n mens nou gelowig is of nie, bly dit uit sowel 'n geloofsoogpunt as 'n liberale sekulêre oogpunt hoopgewend dat die meeste Suid-Afrikaners op so 'n vreedsame wyse uiting gee aan hulle frustrasies en vertwyfelinge oor die huidige stand van sake in die land.

Gepraat van die stand van sake in die land: ondanks die feit dat die byeenkoms eksplisiet deur Buchan as 'n godsdienstige gebeurtenis hanteer is, blyk dit uit die beweegredes vir die byeenkoms dat politieke faktore 'n groot rol gespeel het om mense te mobiliseer om die byeenkoms by te woon. In dié opsig vorm Buchan se byeenkoms deel van die reeks byeenkomste van verset teen die huidige regering en veral teen die huidige president as die versinnebeelding van dit wat in die land verkeerd is. Buchan se byeenkoms vorm dus deel van 'n golf van konstruktiewe energie wat danksy massadeelname in die land aan die opbou is, en is daarom 'n goeie ding.

Soos hier bo vermeld, moet daar ook vanuit 'n Christelike oogpunt en breër kritiese vrae oor Buchan se byeenkoms gevra word. Minstens twee kwessies kan hier genoem word, naamlik Buchan se teologie en sy opvattings oor die Kerk as Liggaam van Christus.

Wat Buchan se teologie betref, is al dikwels gewys op hoe simplisties hy die Bybel verstaan. Uit 'n Christelike oogpunt is die Bybel uiteraard die Woord van God, maar is dit ewe belangrik dat ons die Bybel nie slegs met ons beste redelike vermoëns vertolk nie, maar dat ons die Bybel eweneens vertolk in die lig van die heilige tradisie van Skrifvertolking en die klassieke liturgiese praktyke van die Kerk soos dit vanaf die vroegste Christelike tyd beslag gekry het. Vanuit 'n Christelike oogpunt is niks gevaarliker as een charismatiese prediker wat met 'n aanspraak van 'n regstreekse lyn na God die Bybel op eie houtjie vertolk nie. Vir die Woord van God behoort 'n gelowige 'n bietjie meer respek te hê, en ietwat versigtiger met die individuele vertolking van die Bybel om te gaan. Geen redelike Christen sal byvoorbeeld vandag sekere uitsprake in veral Levitikus, Numeri en Deuteronomium oor slawerny, vroue en vergelding deur geweld meer aanvaar nie – en nié soseer omdat hierdie uitsprake "kultureel" is nie, maar omdat Christus se vleeswording, kruisiging en opstanding 'n totaal nuwe bedeling ingelui het. Hiervan sien ek min in Buchan se teologie.

Wat Buchan se opvattings van die Kerk as Liggaam van Christus betref, is daar ewe ernstige vrae. Uit die oogpunt van die klassieke Christendom is die Kerk die Liggaam van Christus soos sy beslag kry in die Laaste Avondmaal. Oor sy dissipels, wat na sy hemelvaart die Kerk sou voortbou op die fondament wat Hy gelê het, het Christus gebid dat hulle een sou wees soos wat Hy en die Vader een is. Die Kerk het van meet af hierdie gebed nie slegs op die apostels nie, maar op die Kerk self van toepassing gemaak. Dit is waarom die sewe konsilies wat die verenigde Kerk voor die skeuring van 1054 tussen 325 en 787 gehou het, soveel gewig in die Ortodokse Kerk dra. Dit is ook waarom die heel belangrikste liturgiese aktiwiteit van die Kerk die viering van die kommunie (nagmaal) is, en waarom die kommunie elke Sondag gevier word in daardie kerkverbande wat die naaste aan die heilige tradisie staan, naamlik die Ortodokse en Katolieke kerke. Die beroemde Katolieke teoloog en eens amptelik die voorste openbare vyand van Adolf Hitler se Nazi-regime, Dietrich von Hildebrand, skryf daarom in sy klassieke boekie oor die liturgiese lewe van die Kerk, Liturgy and personality (1933): "The Liturgy is Christ praying" (Kindle-ligging 257).

Hiermee verwoord Von Hildebrand dat die Kerk as die Liggaam van Christus veral sentreer rondom die gereelde (minstens weeklikse) viering van die kommunie. In sy boekie wei hy verder uit oor hoe dit juis die gereelde deelname aan die liturgiese lewe van die Kerk is wat die gelowige veral beskikbaar stel om die lewensveranderende werk van die Heilige Gees te ervaar en hom en haar in staat stel om die diepste aardse gemeenskap te ervaar, naamlik die gemeenskap van die heiliges. Tekenend van kerkwees is dus om dag na dag, week na week, maand na maand en jaar na jaar as gemeenskap met mekaar op dieselfde tyd en plek byeen te kom en die immer verdiepende eenheid met mekaar in Christus te ervaar. Dit is waarom dit so bisar is om mense wat hulself as Christene beskryf te hoor sê: "Ek hou nie van die Kerk nie, maar ek het Jesus lief." Uit 'n Christelike oogpunt is dit onbegryplik dat iemand wat beweer hy of sy het Christus lief, nie ook sy Liggaam lief kan hê nie. Waar anders ervaar ons sowel die enorme eise én gawes van die Christelike liefde as juis in die gemeenskap van die heiliges wat die Kerk nastreef?

Is dit dan toevallig dat Buchan en soveel van die mense wat sy byeenkoms bygewoon het Jesus so beklemtoon het, maar so min van sy Liggaam, die Kerk, gesê het? Stellig nie. Kan dit wees dat Buchan se byeenkoms(te) juis deur veral Afrikaners in sulke groot getalle bygewoon word omdat soveel Afrikaners se eie verstaan van kerkwees en die ryk liturgiese lewe van die Kerk so arm is? Een van die grootste skandvlekke op die geskiedenis van die Christendom is die gebrokenheid van die Liggaam van Christus in soveel denominasies – en diegene wat hulle eie "bedienings" en kerkverbande bly stig, doen ongeag moontlike goeie bedoelings net verder aan hierdie tragedie mee. Ja, helaas, ook "oom" Angus met sy selfgestigte "bediening". (Niks in die lewe is natuurlik net goed of sleg nie, soos gedemonstreer deur die konkrete versorgingsaksies van Buchan se Shalom Ministries.)

Dit is goed en wel dat Buchan en sy aanhangers oor die grense van kerkverbande heen Christene verenig in gebed, al is dit net 'n dag lank. Uit 'n Christelike oogpunt kan sulke byeenkomste vertolk word as 'n konkrete uiting van die verlange na die herstel van die Liggaam van Christus tot "een heilige, katolieke en apostoliese Kerk", soos die Geloofsbelydenis van Nicea aanvaar deur die eerste konsilie van die verenigde Kerk dit stel. Dog, die eintlike pad na kerkeenheid loop allereers deur die gesamentlike gereelde gebruik van die kommunie en die herstel van die liturgiese praktyke van die heilige tradisie soos dit in die verenigde Kerk voor 1054 beslag gekry het. Soos enigeen wat daardie pad bewandel het, kan getuig, is dit 'n lewenslange stryd in die arena, soos die heilige Ignatius Brianchaninov dit in sy boek The Arena beskryf.

Dit dan wat betref 'n beoordeling van die positiewe en negatiewe elemente van Buchan se It's Time-gebedsbyeenkoms. Hiermee kan oorgegaan word na die bespreking van enkele breër onderwerpe in die Afrikaanse godsdiensgesprek, wat gedeeltelik deur bostaande ingelei is.

2.  Enkele opmerkings oor die Afrikaanse godsdiensgesprek

'n Kwessie wat sowel met die Buchan-verskynsel as met die breër Afrikaanse godsdiensgesprek saamhang, is die felheid waarmee hierdie gesprek gevoer word. Een waarskynlike oorsaak daarvan is die reeds vermelde verlange na Kerkeenheid by liturgies verarmde Afrikaner-Christene. Nog 'n ander waarskynlike oorsaak is die enorme drakrag en betekenis van die Christendom vir die Afrikaanse wêreld.

Elders het ek al verwys na hoe die einde van apartheid en dié kunsmatige isolasie daartoe gelei het dat godsdienstige kwessies op 'n groter en meer populêre skaal as ooit tevore in die Afrikaanse wêreld bespreek is. Die opkoms van sosiale media en die moontlikhede wat dit aan gewone mense bied om aan die gesprek deel te neem, speel natuurlik ook 'n groot rol. Vir Afrikaanssprekendes van my geslag en ouer is 'n ander faktor die gesagskrisis waarin veral die sogenaamde drie Afrikaanse susterskerke (NG, Hervormde en Gereformeerde kerkverbande) beland het, deels weens hulle eertydse steun vir apartheid, deels weens die ietwat buitensporige impak van sekere liberale teologiese strominge. Oor eersgenoemde is al baie geskryf, maar oor laasgenoemde nie genoeg nie, en dit is waarby in die res van hierdie opstel stilgestaan sal word.

Hier bo is reeds verwys na die feit dat die Bybel in die oorspronklike Christelike Kerk gelees en vertolk is in die konteks van die heilige tradisie en die liturgiese lewe van die Kerk, en dat dit daarom juis gevaarlik is om op eie houtjie die Bybel buite hierdie liturgiese konteks te vertolk. Laasgenoemde moontlikheid is ongelukkig in die hand gewerk deur 'n tragiese gevolg van Martin Luther se geldige opstand teen vergrype in die destydse Katolieke Kerk. Luther wou nie die Kerk skeur nie, maar haar hervorm en van hierdie vergrype suiwer. Ongelukkig was een van die gevolge van Luther se opstand die skeuring van die Kerk en 'n groeiende neiging om af te wyk van die heilige tradisie en die liturgiese lewe van die Kerk. Brad S. Gregory wys in sy uitstekende The Unintended Reformation: How a Religious Revolution Secularized Society (2012) hoe hierdie neiging om die Bybel los van die heilige tradisie en die liturgie te lees reeds by die eerste leiers van die Hervorming tot felle verskille oor Skrifvertolking gelei het. Soos hy in sy bespreking aantoon, was die uiteindelike gevolg hiervan dat saam met die gesag van die Kerk ook die gesag van die Bybel noodlottig ondermyn is. So het dit gekom dat van die leidende Europese denkers van die 17de en 18de eeu desperaat begin soek het na 'n alternatief vir geloof as bron van sekerheid, en gehoop het om dit in die rede te vind. Hiermee is die laat Middeleeuse vernietiging van die Christelike sintese tussen geloof en rede verdiep, en is die moderne wêreld met die onaantreklike alternatiewe van blinde geloof (fideïsme) en blinde rede (rasionalisme) gelaat. Gregory dui aan dat die laat Middeleeuse skeiding van geloof en rede die moontlikheid meegebring het om blinde geloofsaansprake op redelike gronde te betwis, en dit speel 'n sentrale rol in die sogenaamde Verligting waarin Immanuel Kant (1724-1804) so 'n belangrike rol gespeel het in sy oproep dat outonomie beteken om vir jouself te dink en jou rede in te span.

Die enorm geleerde en feitlik totaal onbekende dogmatikus voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Conrad Wethmar, het in my eerste jaar in 1989 in 'n onderhoud aan my gesê dat die Afrikaners nooit die Verligting meegemaak het nie. Destyds was sy bedoeling vir my onduidelik, maar vandag is dit baie duidelik, want die konvensionele idees van die Verligting word vandag gedra deur die liberale en/of ateïstiese deelnemers aan die Afrikaanse godsdiensgesprek. Die Afrikaners is dus vandag deeglik besig met hulle eie weergawe van die Verligting. Voor hierdie verskynsel hier onder beoordeel sal word, word eers stilgestaan by die idees van die Verligting wat vandag deur liberale en/of ateïstiese deelnemers tot die Afrikaanse godsdiensgesprek bygedra word.

Die eerste idee is dié van rasionele outonomie, waarvolgens godsdiensoortuigings eintlik maar 'n irrasionale en privaat aangeleentheid is, en selfs in die ergste van gevalle 'n kruk wat mense daarvan weerhou om as't ware rasionele mondigheid te bereik. 'n Liberale godsdienskritikus haal byvoorbeeld na afloop van Buchan se gebedsbyeenkoms die volgende uitspraak van die ateïstiese Britse filosoof Bertrand Russell op sy Facebook-blad aan:

"There is something feeble and a little contemptible about a man who cannot face the perils of life without the help of comfortable myths. Almost inevitably some part of him is aware that they are myths and that he believes them only because they are comforting. But he dare not face this thought! Moreover, since he is aware, however dimly, that his opinions are not rational, he becomes furious when they are disputed."

Wat Russell en vele van sy liberale Afrikaanse geesgenote met 'n aanhaling soos hierdie doen, is om in navolging van Kant die rede die groot arbiter van die ware en die valse te maak, en voor te gee dat mense wat op mites steun om te leef, so 'n bietjie minderwaardig en onvolwasse is. Die eerste probleem met hierdie uitspraak is dat dit blind is vir een van die mites waarin dit self glo, naamlik die oppergesag van die rede. Hieroor het Blaise Pascal al in die 17de eeu geskryf: "Die hart het sy redes waarvan die rede niks begryp nie." Anders gestel, dit is 'n mite om te beweer dat die mens sonder mites kan klaarkom. Watter mite is vandag invloedryker en onredeliker as die een dat die moderne wetenskap al ons probleme kan oplos en finaal kan bepaal wat waar en vals is? Lees ons nie gereeld elke nou en dan dat "die jongste navorsing" dit wat gister nog as wetenskaplik onbetwyfelbaar was, verkeerd bewys het nie? 'n Mens wil jou verstout om te sê wetenskaplikes verander hulle uitsprake oor die waarheid nog meer gereeld as sommige kerkverbande.

Die ander mite waaraan Russell se uitspraak blinde trou sweer, is juis die Verligting se mite van rasionele mondigheid. In sy magistrale boek A secular age (2007) het Charles Taylor hierdie mite aan 'n vernietigende kritiek onderwerp. Taylor toon aan dat voorstanders van hierdie mite voorgee dat hulle hulle op wetenskaplike feite beroep, terwyl hulle in werklikheid 'n stel bloot persoonlike voorkeure en waardes aanhang wat onder 'n lagie wetenskaplikheid toegesmeer word. Hierdie mite vorm deel van wat Taylor beskryf as 'n geslotewêreldstruktuur ("closed world structure"), byvoorbeeld Descartes (1596-1650) wat as grondlegger van die moderne wetenskap 'n subjektiewe waardeoordeel maak dat slegs dit wat waarneembaar en meetbaar is, tot die terrein van die wetenskap behoort, en dat slegs dit wat absoluut seker is, as die wetenskap kan tel. (Hier bo is reeds verwys na die ironiese verskynsel dat die moderne wetenskap, wat so verknog is aan absolute sekerheid, gereeld sy standpunte hersien, en hier word nie ingegaan op die welkome korrektief wat die teoretiese fisika op Descartes se eng wetenskapsbegrip gebring het nie, deur byvoorbeeld ook aan onsekerheid aandag te gee in die werk van Heisenberg en die kwantumteorie.)

Michael Allen Gillespie het in sy Nihilism before Nietzsche (1995) in 'n briljante bespreking van Descartes se denke aangetoon dat Descartes se hele projek begin deur die teoloog Willem van Ockham se beeld van God as donker en onkenbaar voorlopig te aanvaar en dan 'n kennismodel te ontwerp wat aan ons sekerheid kan bied as die tradisionele geloof dit kwansuis nie kan doen nie. In aansluiting hierby skryf Taylor hoe die mite van godsdiens as kruk en rasionele outonomie in die eerste plek nie wetenskaplik is nie, maar waardegebaseerd:

"There is an ethic here, of independence, of self-control, self-responsibility, of a disengagement which brings control; a stance which requires courage, the refusal of the easy comforts of conformity to authority, of the consolations of an enchanted world, of the surrender to the promptings of the senses. The entire picture, shot through with "values", which is meant to emerge out of the careful, objective, presuppositionless scrutiny, is now presented as having been there from the beginning, driving the whole process of "discovery." (559–60)

Aangesien aanhangers van hierdie mite volgens Taylor gelowiges beskuldig van 'n "childish lack of courage" en aanvoer "[w]e need to stand up like men, and face reality" (561), motiveer hulle hul posisie verder soos volg:

"The unbeliever has the courage to take up an adult stance, and face reality. He knows that human beings are on their own. But this doesn't just cause him to cave in. On the contrary, he determines to affirm human worth, and the human good, and to work for it, without false illusions or consolation." (561–2)

In hierdie antigodsdienstige en veral anti-Christelike posisie skuil 'n aantal ironieë. In die eerste plek beroep hierdie posisie sig op 'n klassieke Christelike ideaal, naamlik die ideaal van die inherente waarde van die mens. Soos my een dosent in teologie aan die Universiteit van Pretoria, Cornél du Toit, eens ironies gevra het: "Wie is 'n groter humanis as God wat die mens gemaak het?" Op ernstiger trant wys die Ortodokse teoloog John Zizioulas in sy Being as Communion (1997) hoe die Kappadosiese Vaders die begrip van die persoon ontwikkel het as die grondslag van die inherente waarde van elke mens.

Nog 'n ironie van bogenoemde posisie is dat dit 'n karikatuur van die "lafhartigheid" van die Christelike lewe skep. Reeds in die middel van die 19de eeu het die Deense filosoof Søren Kierkegaard afgereken met dié onsinnigheid deur aan te toon dat niks meer moed van 'n mens verg as om die sprong van die geloof te neem en te bly glo teen soveel tragedie in die menslike lewe in nie. Hier bo is ook reeds verwys na die durf wat die Christen in die arena moet kultiveer.

'n Ander aspek van die antigodsdienstige en prowetenskaplike posisie is die spanning wat dit as gegewe tussen die wetenskap en die godsdiens aanvaar. In beginsel is daar geen spanning nie – die Ortodokse filosoof en teoloog David Bentley Hart wys in sy Atheist delusions: The Christian revolution and its fashionable enemies (2009) dat die vroeë Christendom aan die werklikheid die status van 'n waardige onderwerp van studie toegeken het wat dit nie by die antieke Grieke en Romeine geniet het nie, juis omdat die ganse werklikheid as beeld van God verstaan is.

Heelwat is al oor die gewaande spanning tussen wetenskap en godsdiens geskryf, maar hier word slegs stilgestaan by 'n grondige punt wat die Ortodokse teoloog Vladimir Lossky reeds in 1944(!) in sy The mystical theology of the Eastern Church oor die saak maak, naamlik dat die Christendom gewoon gefokus is op die "wetenskap" betreffende die verlossing van die mens op hierdie aarde. Lossky skryf:

"Waar die mensdom se beskouing van die heelal sedert die Renaissance die aarde uitbeeld as 'n atoom verlore in die oneindige ruimte te midde van ontelbaar ander wêrelde, het die teologie ewe min te verander aan die Genesis-verhaal as wat dit sig met die verlossing van die bewoners van Mars hoef besig te hou. Die [Christelike] Openbaring bly wesenlik geosentries omdat dit die mensdom aanspreek deur aan hom die waarheid toe te vertrou wat betrekking het op sy verlossing in die omstandighede eie aan die werklikhede van die aardse bestaan." (100, my vertaling uit die oorspronklike Franse uitgawe.)

Dit is in die lig hiervan dat daar in die literatuur van die Christelike askese vanaf die vroegste Christelike era gepraat word van "die wetenskap van die gees". Oor die konsekwentheid van hierdie wetenskap en sy bevindinge vanaf die Woestynvaders tot vandag skryf Diarmaid Maccullogh in sy magistrale A history of Christianity: The first three thousand years (2009): "That is another feature of mystical writing, which repeatedly sets up echoes of past works, many of which the author is unlikely to have known directly (while on occasion, the same mystical themes emerge quite independently in very varied settings)" (Kindle-ligging 8998).

Uit 'n Christelike oogpunt is die konsekwentheid van die mistiese literatuur te danke aan die feit dat dit waarheid van die Christelike verhaal betreffende menslike verlossing in hierdie aardse bestaan bevestig.

Hiermee word nie gesuggereer dat die liberale en/of ateïstiese deelnemers aan die Afrikaanse godsdiensgesprek nie soms ook waardevolle bydraes lewer nie. Inteendeel: wanneer hulle die Afrikaanse susterskerke kapittel omdat hulle nie konsekwent in hul standpunte oor byvoorbeeld apartheid of gay mense is nie, pas hulle inderwaarheid 'n Christelike maatstaf op die Kerk toe, naamlik dat die Liggaam van Christus konsekwent moet staan vir die liefde en geregtigheid.

Maar wanneer die liberale en/of ateïstiese deelnemers aan die Afrikaanse godsdiensgesprek die Christendom as sodanig veroordeel, begaan hulle 'n ernstige fout, naamlik om die baba van die Christendom saam met die badwater van swak teologie uit te smyt. Hoe ironies is dit nie van hierdie deelnemers om die Bybel eweseer buite die konteks van die heilige tradisie en die liturgiese lewe te lees as diegene wat hulle kritiseer nie? Dit is hoekom hulle dikwels geneig is om die Bybel volgens die standaarde van die moderne wetenskap te lees, pleks van in die lig van die standaarde van die "wetenskap van die gees" wat deur die Woestynvaders ontdek is en tot vandag konsekwent bly.

Hier bo is aangevoer dat die godsdiensgesprek wat sowat die laaste twee dekades in die Afrikaanse wêreld woed, aanduidend is daarvan dat ook die Afrikaners vandag deur die Verligting leef. Die vraag is hoe hierdie verskynsel beoordeel moet word.

In die eerste plek moet gewys word op die ironie dat hierdie belewenis ruim twee eeue ná die Duitse Verligting plaasvind – waarmee baie beslis nie gesuggereer word dat die Duitsers die Afrikaners voor is en in alle opsigte nagevolg moet word nie. Inteendeel: om die waarheid te sê het 'n stroom literatuur die afgelope drie dekades en meer vanuit 'n sogenaamde postsekulêre hoek die Verligting toenemend beoordeel as 'n naïewe beweging wat enorme kultuurpolitieke verliese vir Wes-Europa en Noord-Amerika meegebring het – hier word verwys na die werk van onder andere Ivan Illich, Charles Taylor, Louis Dupré, Brad S. Gregory, Alasdair MacIntyre, John Milbank en Catherine Pickstock.

Ondanks die enorme invloed van Afrika op die vorming van die Afrikaners, is die Afrikaners se intellektuele wortels en bronne oorwegend Westers en Christelik (wat beslis nie altyd sinonieme van mekaar is nie). Régis Debray het onder meer in sy Media manifestoes (1996) daarop gewys dat 'n netwerk van literêre salons, vervoerweë en die boekdrukkuns die materiële voorwaardes gebied het vir die vrye vloei van idees wat tot die Verligting gelei het – vandag weet ons dat die tradisionele gemeenskapsetos van Wes-Europa die knie voor die liberale individualisme moes buig.

Dit wil voorkom asof iets soortgelyks die afgelope twee dekades met die Afrikaners gebeur het – die einde van die kunsmatige isolasie van apartheid tesame met die opkoms van die internet en ander inligtingstegnologie het daartoe bygedra dat die Afrikaners, wat tradisioneel 'n gemeenskapsgerigte etos had, ook met die liberale individualisme begin flankeer het. Die groot ironie hiervan is egter dat die liberale en/of ateïstiese godsdienskritici (en moontlik die meerderheid akademici in die geesteswetenskappe en die teologie) op bykans fundamentalistiese wyse hierdie Verligtingsidees oor die godsdiens omhels het, klaarblyklik salig onbewus van hoe hierdie idees al lankal aan grondige kritiek onderwerp is deur denkers wat in hierdie opstel aangehaal word.

Die grootste ironie is egter die volgende: soos wat Afrikaners se politieke onsekerheid na die verlies van staatsmag toegeneem het, en hulle godsdienstige liturgiese verarming verdiep het, het al hoe meer Afrikaners hulle gewend tot die maklike sekerhede en kitsemosies van die kwasiliturgiese praktyke van "oom" Angus en sy "charismatiese" eweknieë. Die liberale en/of ateïstiese godsdienskritici is heeltemal reg om hierdie fundamentalisme te veroordeel, maar hulle snap telkens nie hoe fundamentalisties hulle hul eie agterhaalde Verligtingsidees hanteer nie. Nog minder snap hulle dat blinde geloofsfundamentalisme en blinde liberale rasionalisme part en deel van dieselfde dialektiek is – hoe meer die gelowige fundamentaliste en die liberale rasionaliste mekaar veroordeel en kritiseer, hoe meer verhard elkeen sy posisie.

Die uitweg uit hierdie dialektiek is dat albei partye moet insien dat hulle inderwaarheid met 'n laat moderne karikatuur van die Christendom werk. As hulle hulle oopstel vir dit wat die Christendom tot stand gebring het in die eerste 15 eeue van haar bestaan, en hoe dit voortgeleef het in enorme geestelike, intellektuele en estetiese prestasies die afgelope vyf eeue in veral die Katolieke en Ortodokse Christendom, mag die Afrikaanse godsdiensgesprek in 'n totaal ander rigting beweeg, waar sowel die gelowige as sy of haar kritikus veel intelligenter en simpatiek op mekaar kan inspeel.

Want (om aan André Malraux: "die 21ste eeu sal geestelik wees, of dit sal nie wees nie" te ontleen): die Christendom van die toekoms sal opnuut liturgies wees, of dit sal nie wees nie.

(Artikel eerste gepubliseer op Litnet.)

Prof. Johann Rossouw is 'n dosent in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Lees meer van sy werk by johannrossouw.co.za.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.