Anaximandros se deurbraak

Deur Prof. Kobus Krüger op 1 Maart 2010

In die geskiedenis van die mensdom kom daar van tyd tot tyd sekere tipiese krisis-situasies voor. Dan word verskillende tipiese antwoorde op sulke krisisse oorweeg. En sekere tipiese soorte mense kom na vore.

Twee en 'n half duisend jaar gelede het 'n Griekse groep mense (die Ioniërs) twaalf bloeiende Griekse stede langs die westelike kuslyn van Klein-Asië (moderne Turkye) bewoon. Vele kulture, tale en religieë – Europa en Asië – het in hierdie handelstede vermeng. Een van die stede was Miletos. Hier het 'n groot skeppende genie, Anaximandros, van ongeveer 612 tot 545 voor ons huidige jaartelling geleef.

Ekonomies het dit met hierdie groep Grieke heeltemal goed gegaan, maar hulle was met 'n ander ernstige probleem gekonfronteer. Hul lewensbeskouing, godsdiens, religie (noem dit wat jy wil) was vir sommige besig om in duie te stort. Om mee te begin, was hulle omring deur 'n aantal nie-Griekse religieë, elkeen met sy eie stories van gode en hul dade (mitologieë), soos byvoorbeeld die Fenisiërs en Hittiete s'n. Nog erger: 'n nuwe wetenskaplike manier van dink het die ou idees van hoe die wêreld ontstaan het en hoe dit inmekaar sit, omver gewerp.

'n Ouer stadsgenoot van Anaximandros, Thales, het trouens met die rewolusionêre idee vorendag gekom dat alles wat bestaan, eintlik vorms van water is. Hy was die vader van die Westerse wetenskap. Die ou gode het begin swyg, begin sterf. Sonder om begrippe wat in ons situasie gebruik word op daardie een af te forseer: dit was, in 'n sin, 'n 'gesekulariseerde' samelewing, met 'n groot dosis 'ateïsme' daarin. 'n Kultuur in krisis.

Wat nou? Wat moes, kon, 'n denkende mens soos Anaximandros doen? Die ou mitogie bly resiteer? Dit totaal verwerp? Sommer 'n nuwe een aanvaar? Inval by die water-teorie? Of maar net oorgee, ophou wonder oor die sin van alles? Ophou dink?

Klink dit bekend? Ons word vandag ook gekonfronteer met die ontmoeting en wrywing van allerhande religieuse diskoerse. Rede en wetenskap (relatiwiteitsteorie, kwantum-fisika en evolusie) skud die fondamente van 'n ou kosmologie waarmee tradisionele religie vervleg was. 'n Tradisionele mitologiese wêreldbeeld en godsbeeld wankel. Mense wat in ons dag dieper dink en voel, bevind hulle in die situasie dat 'n tradisionele religie in 'n groot mate sy geloofwaardigheid verloor het. Ja, wat nou?

Vir my lê die belang van Anaximandros daarin dat hy in 'n soortgelyke situasie as ons vandag, die heimwee na die uiteindelike sin van dinge nie prysgegee het nie. Hy was 'n pionier van wat ek 'metafisiese mistiek' wil noem: die soeke na 'n redelike, intellektueel verantwoordbare perspektief, maar een met 'n mistieke ondertoon.

Hy het die intellektuele en morele moed gehad om alle bekende en gewaande sekerhede af te stroop. Hy het van die denkbeeld van mensvormige gode (of daar nou een of baie van hulle is, is nie die hoofprobleem nie) wat iewers elders sit, afskeid geneem. Maar hy was ook nie bereid om alles te reduseer tot blote natuurkragte soos water, vuur of lug nie. Nee, hy het 'n derde weg gesoek. Sy intuïsie het hom nie na een of ander vaste, definitiewe punt, wese, ding of substansie gelei nie. Hy was tevrede om die groot geheim net apeiron te noem.

Sy begrip apeiron kan op twee maniere vertaal word: die Oneindige, of die Onbepaalde. Die eerste opvatting sou kon verwys na uitgestrektheid sonder einde in tyd en ruimte. Die tweede opvatting sou kon verwys na 'n kwaliteit van onbepaaldheid in die sin van nog-nie-begrensheid, van volkome vormloosheid vóór die baie dinge. Miskien het Anaximandros iets van albei in gedagte gehad. Ek meen dat die gedagte van Onbepaaldheid die dieper en belangriker een van die moontlike twee aksente was. En omring sy apeiron die wêreld buite-om, of deurdring dit die wêreld binne-in? As dit die tweede (die sterker denkbeeld) is, maak dit van hom 'n soort pan-en-teïs (alles-in-'God') lank voor ons tyd. Maar ons weet nie presies wat daarmee bedoel het nie.

Op die ou end het Anaximandros waarskynlik die apeiron tog nog as 'n soort 'iets', 'n soort substansie, gesien. Maar dit wys heen in die rigting van 'n Absoluutheid, 'n grenslose Openheid as bron en bestemming van alle dinge. Hy was die eerste een in die Weste om hierdie onbekende terrein te begin bedink, vir wie die gedagte van radikale Onbegrensdheid die sentrale mistieke en intellektuele hartstog was. Op hierdie pad het hy ver gevorder, maar nie tot die uiterste horison nie. Dit sou ná hom kom.

Dit sou nie billik wees om fout te vind met sy pionierspoging nie. Ons moet hom beoordeel in terme van wat vir hom moontlik was, gegewe sy tyd en omstandighede. Ons sit met twee en 'n halwe millennia se diepdink agter ons. In Europa het hy niks agter hom gehad nie. En in elk geval het hy so vyftig jaar voor die Boeddha (verder oos in Indië), wat die gedagte van Leegheid (sunyata) as eerste beginsel van alles voorop gestel het, geleef. Om reg aan Anaximandros te laat geskied, moet ons kyk na die probleem wat hy wou oplos, die hunkering wat hom gelok het, en die rigting waarin hy getas het. Dan kom sy glorie na vore.

Met apeiron het hy 'n denkbeeld oor die ontstaan en vergaan van die kosmos verenig: uit daardie onbepaalbare, bodemlose, ondefinieerbare Bron ontwikkel alle dinge, en daarheen keer hulle almal weer terug. Lewe het voortgekom uit die eerste fisiese beginsels (bygesê, botsende beginsels), en het van lewe in water tot lewe op land ontwikkel. Hierdie soort denkbeeld maak hom die vader van evolusionêre denke in die Weste. In die ewige Onbepaaldheid is daar 'n ewige Self-beweging waaruit die wêreld ontstaan het. Die onuitputlike Onbepaaldheid bevat in beginsel alles wat ontstaan. Uit die Onbepaaldheid kom wêrelde voort, en daarin sak wêrelde weer weg. Ons kan vandag die tendens van sy soort denke waardeer, en die groot figuur agter daardie denkbeelde bewonder.

Sy evolusionêre natuurkunde was misties gekleur, en sy mistiek wou hy – en het hy – met die wetenskap van sy dag verbind. Is dit nie die soort metafisies-mistieke strategie wat in ons dag ook verreweg die belowendste is nie? Ek dink so.

Laat ons die groot Europese metafisies-mistieke tradisie, waarvan ons vandag die erfgename en draers is, in ere hou. En ja, dit sluit vir seker ook die voor-Christelike, 'pagaanse' dimensie daarvan in.

Prof. Kobus Krüger

1 Maart 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za