.

Al minder mense glo, is dit waar?

Deur Carla van der Spuy op 1 Mei 2013

.

Is godsdiens vandag nog relevant? Het ons godsdiens nog nodig of het dit sy doel gedien? Daar word deesdae gereeld oor dié groot vraagstuk gewroeg. Daar is al wyd oor 'n ondersoek deur WIN/Gallup International berig, waarvolgens Suid-Afrika een van die lande ter wêreld is waar godsdienstigheid vinnig afneem. Volgens hul ondersoek, waarin 50 000 mense ondervra is, het die getal Suid-Afrikaners wat hulself as meelewend godsdienstig beskryf, sedert 2005 van 83% tot 64% afgeneem.

Die enigste lande benewens Suid- Afrika, waar mense toenemend minder godsdienstig raak, is Viëtnam, Ierland, Switserland en Frankryk. Ondanks hierdie syfers is Suid-Afrika volgens die ondersoek steeds een van die gelowigste lande op aarde met 64% van die bevolking wat hulself godsdienstig ag. Volgens die navorsers is dit ook so dat hoe ryker 'n land is, hoe minder godsdienstig is die inwoners.

Op Dr. Abel Pienaar van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit se webwerf skryf 'n professor, wat verkies om anoniem te bly, dat godsdiens na sy mening sy doel gedien het in 'n tyd toe daar geen ander verklarings vir oorlewing nodig was nie. Van die redes wat hy aanvoer, is dat niemand 'n presiese beskrywing van die hemel kan gee nie. Daar bestaan geen predikant, rabbi, priester of biskop wat met sekerheid hierop kan antwoord nie. Die hel word wel deeglik beskryf en hy meen dat godsdiens dikwels vreesgedrewe is. Hy beskryf dood as ons "finale vrees".

Op dieselfde webwerf verwys Jaco Steyn in 'n artikel getitel "Die groot verlange na die goddelike" na die bekende digter en denker Eugène Marais en die verlange wat hy na iets "misterieus" gehad het. Jaco skryf dat hy die afgelope jare by 'n aantal godsdienstige/spirituele debate op verskeie webruimtes en Facebookgroepe betrokke was. Hy het toe besef dat die meeste Afrikaanse mense van hul eertydse godsdienstige opvattings af wegbeweeg en al meer skepties raak oor die goddelike en die hiernamaals.

Hy sê daar was nog altyd mense wat op aardse dinge gefokus het en dat die geloof in die "groot misterie" buite tyd en ruimte vir hulle geensins sin gemaak het nie. Daar is dikwels beweer dat hierdie geloof maar net op wensdenkery gegrond was.

Dr. Abel meen egter die stelling dat al minder mense glo, ietwat misleidend is en dat mense nie noodwendig minder "glo" nie, maar eerder nie meer op die ou manier wil glo nie. "Mense wil nuut oor God en die werklikheid van die lewe dink. Hulle wil die nuwe ontdekkings in die wetenskap, evolusie en filosofie by hul verstaan integreer. Hiermee help die kerk ongelukkig bitter min, want die kerk hier en wêreldwyd het in 'n premoderne begrip van God vasgeval.

"Biotegnologie, biochemiese navorsing, stamselnavorsing, neurologie, argeologiese ontdekkings en vele ander wetenskaplike prestasies verander nie net die postmoderne mens se uitkyk op die werklikheid nie; dit plaas hulle in 'n nuwe era waar nuwe spiritualiteit en 'n nuwe verstaan van die goddelike 'n voorvereiste word.

As die kerk enigsins relevant wil bly, sal dit weer eerlik moet gaan kyk na hoe hy mense kan help om in die hier en nou gelukkig te kan leef en sal moet besef dat mense se wêreld anders lyk," sê hy. Een van die oorsake van ongelowigheid is volgens 'n ondersoek deur Pew Research die feit dat hedendaagse jongmense minder godsdienstig as ouer mense is. Volgens dié verslag dink mense nogtans dat godsdiens 'n positiewe faktor in die samelewing kan wees en bande tussen mense versterk terwyl die meeste ook meen dat godsdienstige organisasies 'n belangrike aandeel aan hulp vir behoeftiges het.

In 'n dagblad skryf 'n briefskrywer onder die skuilnaam "Ongelowige Christen" dat die rede waarom Christene hul geloof verloor aan die inligtingsera toegeskryf kan word. Hy meen baie mense weet vandag vir 'n feit dat die Bybelse weergawe van 'n letterlike skepping, 'n Skepper, waar die mensdom vandaan kom en die ouderdom van die heelal "vals is en dat daar talle weersprekings in die Bybel is".

Hy meen ook dat fundamentaliste 'n vervreemding en soms teësin in godsdiens veroorsaak: Hulle het al menige ongelowige tot 'n "antigodsdiens-ingesteldheid" gedryf. Diegene wat die wetenskap vrees, vrees altyd ook God. Talle stel hulle dit ten doel om die wetenskap aan te val, te verdraai en verdag te maak, skryf hy.

Gelowiges

Hennie Pienaar, 'n kliniese pastorale terapeut meen die kerk het in sekere gevalle by Adam en Eva in die paradys vasgeval. "Ek vermoed ook dat mense nie noodwendig opgehou glo het nie, maar net nie meer glo soos wat die kerk vir hulle wil voorskryf hoe om te glo nie, soos dat gay mense selibaat moet leef."

Jean Oosthuizen, 'n joernalis, verwys na die feit dat die Gallup-studie nogal baie kritiek uitgelok het omdat die steekproef wat in Suid-Afrika gedoen is bitter klein was en nie baie verteenwoordigend was nie. Sy gevoel is dat dit nie soseer 'n geval is van minder mense wat glo nie, maar wel van minder mense wat kerk toe gaan of aan georganiseerde godsdiens deelneem.

"Wat wel waar is, is dat Suid-Afrikaners, net soos in Westerse lande, baie meer sekulêr word. Hulle gaan minder kerk toe en raak makliker kerklos. Dit beteken egter glad nie hulle word nou skielik ateïste of dat hulle nie meer in God glo nie. Die dalende lidmaatsyfers in die meeste hoofstroomkerke bevestig hierdie tendens. Baie van die 'weglopers' verkies om hul spiritualiteit op 'n ander manier uit te leef as in die tradisionele kerk, soos in kleiner gespreksgroepe of die natuur.

"Een van die redes is omdat die kerk vir baie mense wêreldvreemd geword het. Die inligtingtsoenami wat ons die afgelope dekade of wat getref het, begin nou eers by baie mense insink. Geykte antwoorde uit 'n premoderne wêreld maak nie meer noodwendig in die 21ste eeu sin nie. Om in hierdie eeu te kan oorleef, benodig die kerk nuwe leiers vir nuwe werklikhede, soos die titel van die NG Kerk se moderator, Prof. Nelus Niemandt, se boek Nuwe drome vir nuwe werklikhede aandui. Hy bepleit 'n hele omwenteling in die manier waarop daar oor God en die kerk gedink word."

Ds. Jannie Pelser, predikant van die NG gemeente Rant en Dal en stigter van die Jesus Projek en van die Nuwe Hart Stigting, sê hy vermoed dat die Gallup-syfers na die wye spektrum van geloofsoortuigings verwys.

Die Christendom is maar een kategorie van geloof. "'n Verskeidenheid redes kan vir die toedrag van sake aangevoer word, maar die woordjie 'godsdienstig' val tog op. Ek dink dis juis waarteen baie mense dit vandag het. Daar is 'n soeke na 'n verhouding met God eerder as uiterlike rituele en godsdienstige pligpleging."

Ds. Jannie meen terwyl dit so is dat mense hulle van tradisionele kerke losmaak, daar 'n toename is in mense wat na 'n intiemer verhouding met God op reis is. "Hulle vind dit nie noodwendig in die kerk nie, maar dit beteken nie dat hulle nie met God en Hy met hulle op reis is nie. "Almal glo in iets, al is geloof in die bonatuurlike in die self verplaas. Om te glo, is net te na aan menswees dat iemand kan verklaar dat hy nie glo nie. Ons is só deur God geprogrammeer. Ons móét in iets of iemand glo, maar dis my mening." Ds. Jannie sê dis wonderlik om te weet dat Suid-Afrika steeds een van die gelowigste lande ter wêreld is. Dit is egter vir hom ontstellend dat die impak van ons sogenaamde godsdienstigheid nie altyd in die daaglikse lewe sigbaar is nie. Ondanks ons godsdienstigheid is Suid-Afrika se egskeiding-, moord-, en verkragtingsyfers van die hoogste ter wêreld.

"Ons is ook van die meer korrupte samelewings ter wêreld. Dit strek 'n land wat op godsdienstigheid roem nie tot eer nie. Dit bevestig weer my eerste gedagte dat godsdiens nie harte verander nie, maar 'n verhouding met die lewende Christus wel." Van die feit dat arm lande meer godsdienstig as ryk lande is, sê hy hy ken welvarende mense wat in afhanklikheid van God leef en agtergeblewe mense wat van God vervreemd is.

Ds. Jannie sê dat waar geloof in Suid-Afrika en ander Westerse lande afneem, die teenoorgestelde in baie ander wêrelddele waar is en dat uitsonderlike groei in die Christendom in China, Indië en Afrika lande gesien kan word. Daar is ook 'n wêreldwye toename en belangstelling in spiritualiteit.

Godsdiens versus wetenskap bly 'n ou debat. Daaroor sê Dr. Abel: "Wetenskaplike denke kan ons vertel waarom ons kanker het en kan dit selfs genees. Maar dit kan nie die vrees, teleurstelling en verdriet aanspreek wat saam met die diagnose kom nie. Dit lê nie op sy terrein nie. Godsdiens werk nie outomaties nie; dit verg 'n groot mate van toewyding en kan nooit slaag as dit oppervlakkig, vals, of selfbevredigende afgodery is nie."

Gepubliseer in Vrouekeur op 19 April 2013.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.