Al meer vrae!

Deur Carla van der Spuy op 1 September 2010

(Artikel verskyn in VroueKeur van 23 Augustus 2010.)

Baie mense bevraagteken deesdae hul geloof en erken openlik dat hulle meer vrae as antwoorde het. Onder hulle is predikante wat uit hul gemeentes bedank, soos Ds. Izak du Plessis van die Valleisig NG Kerk. Altesaam 21 klagtes van dwaalleer is teen hom aanhangig gemaak, maar hy is slegs aan twee van die klagtes skuldig bevind en het met sy werk voortgegaan, maar het later weens sy "afdraaipaadjies" bedank. Hy het ook opslae gemaak omdat hy die kerk met 'n kroeg vergelyk het. Hy het gesê as die kerk relevant wil wees, sal dit moet leer om "soos 'n kroeg te wees", want daar word jy aanvaar soos jy is.

Hy sê: "Ek sukkel regtig met begrippe soos maagdelike geboortes, opstanding en hemelvaart. Kortom, in die lig van die kerk se belydenisskrifte is ek inderdaad besig om te dwaal." Om anders as die hoofstroom te dink, gaan nie daaroor om die Bybel te bevraagteken nie. Dis eerder 'n poging om die nuwe kennis rondom die Bybel en wetenskaplike kennis in jou geloof te verreken. "Ek het byvoorbeeld baie lank geglo dat die skeppingsverhale 'n letterlike weergawe van die totstandkoming van die wêreld is." Toe vind ons uit dat die aarde miljarde jare oud is en nie 6000 jaar soos wat kreasioniste glo nie. Dan moet 'n mens mos besef die Bybel se skeppingsverhale is eerder 'n gedig oor die grootsheid van God.

"Die wetenskap probeer dus nie om die Bybel in twyfel te bring nie – dit gee bloot die feite. Dit gebeur veel eerder dat gelowiges die wetenskap probeer diskrediteer omdat die feite nie met hul geloof oor die Bybel ooreenstem nie." Hy sê hoewel die tydsgees waarin ons leef dit wel makliker gemaak het om jou geloofsoortuigings te openbaar, is dit nog lank nie so maklik soos wat dit lyk om met die hoofstroom te verskil nie. "Baie Christene is venynig en beledigend as 'n mens van hulle verskil. Jy word gou met die oordeel van God en die hel gedreig." Wanneer mense as gevolg van 'n veranderende wêreld bereid is om aanpassings te maak, ontstaan daar spanning, wat selfs families en vriendekringe uitmekaarskeur.

Daarom is daar nog baie mense wat nie hul vrae verwoord nie. Die koste daarvan is vir hulle te hoog. Hoe voel hy nou oor sy geloof? "Ek weet niks van God nie. Ek bely niks oor God nie. Ek leef net in God." Izak beskuldig die kerk as instelling daarvan dat hy dit nie regkry om vir mense om te gee nie. "Daar is te veel dogma en te min deernis." Hy pleit dat mense op sorgsame wyse in geloof verskil. "Doen dit met compassion. Ons het dit almal nodig."

Ons moet elkeen ons eie pad loop

Johan Steyn, eertydse pastoor by die Rhema-kerk het ook ná 'n geloofstryd uit die kerk bedank. Hy sê een woord som sy geloofservaring oor die afgelope jare goed op: ontnugtering. Hy sê hy voel steeds die donkerte en verlorenheid as hy aan sy "woestyndraaie" dink.

Hy het nagte wakker gelê en hom oor sy siel en ewige bestemming bekommer, "want hoe waag ek dit om in God te twyfel? Aan die begin was ek skaam en het ek skelmpies getwyfel. Ek was seker iets moes fout met my wees, want al die ander mense lyk so gelukkig en seker. Maar ek is op 'n plek in my lewe waar ek respek het vir my eie reis en my soekende vrae – meer so as wat ek bang is vir wat mense gaan dink. Ek leer ook om ander te respekteer wat nog glo soos ek jare gelede geglo het." Johan erken dat hy soms die skoolkampe mis waar hulle hande omhoog onder die sterre langs die vuur gesing het: "Ek weet vir seker dat Jesus leef..."

"Ons moet elkeen ons eie pad loop en ek bid (bid ek nog?) dat my eie reis my 'n beter mens sal maak – meer liefdevol, meer geduldig, 'n beter vriend en 'n goeie pa. Mag mense my die respekvolle ruimte gun om in eerlikheid te twyfel."

Dr. Abel Pienaar, 'n eertydse NG predikant en nou agnostikus, is tans direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit en skrywer van die boek Saam op soek na God. Hy vertel in sy boek van sy geloofstryd en sy eie vrese vir verwerping nadat hy uit die NG Kerk bedank het. Reaksie daarop het gewissel van bewondering vir sy moed tot dreigemente oor God se toorn.

Hy meen al meer Suid-Afrikaners wat in die Christelike tradisies grootgeword het, is besig om van die dogmas afskeid te neem wat as die absolute waarheid aan hulle voorgehou is. "Die oorsteek van 'n grens, beteken egter nie vir my die vernietiging daarvan nie, maar bloot die verskuiwing. Ons is nie besig om die goddelike weg te verklaar nie, ons is eerder besig om ons denke rondom die goddelike te verskuif." Dr Abel sê hy beskou God as 'n energie van liefde en vir hom is God groter as enige geloof.

Prop. Hennie Pienaar, 'n kliniese pastorale terapeut, het nie 'n gemeente nie, maar neem huwelikseremonies waar en trou gay paartjies. Hy meen daar is 'n groot verskil tussen dogma en die tradisionele manier en die werklikheid is dat tradisies tred met die tyd verloor het. "Gay mense se ouers sit in tradisionele kerke en hulle hoor hoe die dominee sekere teksverse aangaande seksualiteit interpreteer. Hulle voel ongemaklik daarmee en gaan soek groener weivelde."

Hy meen die gereformeerde tradisionele kerke en die charismatiese kerke het nie meer iets unieks om aan die moderne denkende mens te bied nie, maar intussen soek mense 'n emosionele verbintenis met iets wat groter as hulself is. "Baie mense is deesdae eerder spiritueel as godsdienstig omdat hulle voel dit gee hulle 'n beter verbintenis met God," sê hy.

Hierdie sienings is vir baie tradisionele Christene vreemd en ontstellend, maar party teoloë en predikante verwelkom hierdie soort debat. Ds. Anton van Zyl van die Kuierkerk op Hartbeespoort sê daar is beslis 'n wending in die manier oor hoe mense oor geloof praat. "Daar is ook mense wat negatief hierop reageer. Hulle trek laer en sal die verskynsel eenvoudig afmaak as die slinkse vyand wat almal verblind. Ons moet egter minder skepties daaroor gesels en die geleenthede raaksien."

"Hoe meer jy jou eie geloof wil beskerm of bewys, hoe harder sal jy met die sogenaamde opposisie veg. Dis ook só dat hoe meer jy weet dat jou geloof jou toeval, hoe meer is jy bereid dat dit die toets van kritiek deurstaan." Deesdae word mense eerder aangemoedig om twyfel in geloofsgesprekke in te werk, want dit laat jou denkend na die wortels van jou geloofsvorming kyk. Gesprekvoering maak die weg oop na gedagtes wat ontwikkel en groei. Die Bybel en die wetenskap is nie in konflik met mekaar nie. As ons enigsins so dink, verstaan ons óf die Bybel óf die wetenskap verkeerd. Hoewel die wetenskap ook foute maak, sou enige wetenskaplike artikel hoogstens 'n spesifieke interpretasie van die Bybel in twyfel bring. "Oor die algemeen beweeg ons vanaf 'n sterk eksklusiewe Christendom na 'n meer inklusiewe benadering."

Ons kom al agter dat verskillende mense bloot verskillend op God se werking in hul lewe reageer. Die dae is verby dat 'n enkele belydenisskrif of dogma almal tevrede stel. "Die feit dat iemand op ander maniere oor God praat, beteken nie hy is verkeerd nie, hy is dalk net aan die begin van sy gesprekke oor God. Gesprekvoering met andersdenkendes behoort eerder op vrae as veroordeling en kritiek gegrond te wees. Vind uit hoekom iemand op 'n gegewe manier oor God praat. Dalk leer jy ook iets."

Prof. Hennie Stander is die adjunkdekaan van geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria asook predikant in die NG Kerk Bonaero Park. Hy sê dis 'n feit dat mense nou meer krities teenoor geloof, kerk, dominees en teoloë staan. "Van die redes daarvoor is dat daar nie meer sekerhede is in die postmodernistiese era waarin ons leef nie. Natuurlik sal die kerk ook deurloop."

"Nog 'n kenmerk van hierdie era staan as 'icon toppling' bekend. Dit beteken alle gesagstrukture word afgebreek. Mense het nie meer respek vir gesagsliggame nie. Dit beteken predikante en teoloë word ook bygekom. Die internet vertolk ook 'n belangrike rol met onmeetlik baie inligting en lidmate kan dus hul dominees met vrae peper. Dominees is ook nie altyd opgewasse genoeg om die vrae te beantwoord nie."

Prof. Hennie dink die kerk het in die verlede baie gefouteer deur sulke vrae net stil te maak. Baie mense het deur dié optrede seergekry en kan die kerk nie vergewe nie. "Ek wil tog ook die ander kant met groot liefde stel en vra dat daar ook na my geluister sal word. Ek beleef dit dikwels dat mense so graag as krities en intelligent beskou wil word dat hulle alles as teken van hul kritiese denke wil verwerp. Net soos wat die kerk dikwels in die verlede liefdeloos teenoor mense met vrae opgetree het, net so vind ek dat sommiges wat die geloof bevraagteken, dit ook baie skerp doen en met vyandigheid teenoor die kerk optree."

Op die ou einde is hulle net so liefdeloos as die liefdeloosheid wat hulle van die kerk se kant af ervaar het. "'n Mens bespeur soms 'n gretigheid by sommiges om die kerk te sien verdwyn, maar die kerk, geloof en God sal nie verdwyn net omdat mense kritiese vrae vra nie." Dis sy wens dat mense minder vyandig na mekaar sal luister en mekaar minder sal etiketteer.

God is nie kwaad nie

Ds. Jannie Pelser, predikant en stigter van die Jesus Projek, sê die vrymoedigheid waarmee mense vrae rondom geloof vra, is verkwikkend. "God is nie geïntimideer, kwaad of neem nie aanstoot wanneer ons eerlik worstel nie. Die Bybel is dan juis die getuienis van mense se worsteling om Hom beter te verstaan." Hy sê mense wil God so graag ontleed en uitklaar, maar God is heerliker en groter as dit. Hy sê dis bevrydend om te erken dat hy oor sommige sake self nog nie uitsluitsel het nie.

Jean Oosthuizen, joernalis by Die Kerkbode en moderator van die webwerf Kletskerk, sê daar is deesdae beslis 'n groter openhartigheid om die geloof waarmee mense grootgeword het krities te bevraagteken. "Mense glo nie meer alles wat die dominee van die preekstoel af verkondig nie. As die kerk vir hulle oor apartheid gejok het, waaroor jok dit nog? Kwessies soos saambly, homoseksualiteit en Sondagsport is nie meer 'n issue vir moderne mense nie."

Dit beteken nie hulle is sonder morele waardes nie. Vandag se mense wil weet waarom die dominee só sê. "Daar is 'n groot groep mense wat anders as voorheen oor die kerk en geloof dink en die kerk sal dom wees as hy sy ore daarvoor sluit. Die kerk moet hóór wat hierdie mense sê as hy relevant wil bly. Hy durf dit nie sommer van die tafel afvee nie."

Carla van der Spuy is 'n vryskut joernalis en kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za