Die eerste histories-bekende mistikus: Akh-en-Aton (14e eeu VHJ)

Deur Prof. Kobus Krüger op 1 Junie 2010

Ou Egipte het 'n grootse religieuse literatuur, onder andere gedigte, opgelewer waaruit 'n persoonlike verhouding met die godheid na vore kom – hetsy in 'n verpersoonlikte vorm as Min-Horus, Amon, Thoth of Osiris, of in die vorm van natuurkragte soos die son en die Nyl. Sommige sulke gedigte het 'n mistieke strekking in die sin waarin ek daardie woord verstaan. Sommige van hulle was oor eeue oorgelewer. Ons kan egter nie met sekerheid die name van spesifieke digters of komponiste aan sulke gedigte en liedere koppel nie. Dit geld miskien ook van die pragtige lied Himne aan die Son (waaruit ek omrede van ruimte nie nou aanhaal nie).

Hierdie himne word gekoppel aan 'n historiese individu van drie en 'n half duisend jaar gelede, 'n man met 'n naam – Akh-en-Aton – en 'n bekende lewensgang van wie ons weet dat hy 'n unieke verhouding met die universele lewenskrag (die godheid Aton genoem) ervaar het – al was hy volgens ons huidige historiese kennis nie met volkome sekerheid die digter en komponis van die lied hieronder nie. Maar al het hy miskien nie die woorde van die himne self gekomponeer en op skrif gestel nie, kan die grondliggende idee met groot waarskynlikheid na hom teruggevoer word.

Abraham, wat as die grondlegger van die Joodse geloof in die negentiende eeu VHJ beskou word en wat in die latere Judaïsme, Christendom en Islam as proto-mistikus beskou sou word, het weliswaar 'n paar eeue voor Akh-en-Aton geleef. Maar Abraham staan in 'n veel mindere mate as 'n konkrete historiese individu voor ons. Akh-en-Aton kan inderdaad as die eerste histories bekende mistikus beskou word.

Volgens een algemene opvatting het hy ('ketters', sou ons vandag sê) 'n onkonvensionele nuwe religie ingevoer; volgens ander het hy as innoverende hervormer teruggekeer na ou impulse van die Egiptiese religie.

Hy was (waarskynlik van 1377 tot 1358 VAJ) die tiende Farao van die Agtiende Dinastie. As tiener het hy onder die naam Amen-hotep ('Amon is tevrede') IV die troon van Egipte geërf. Kort na sy bewindsaanvaarding het hy egter die naam Akh-en-Aton ('Diensbaar aan die son/Aton') aangeneem. Die Egiptiese Ryk was toe – rondom die middel van die veertiende eeu – op die kruin van sy mag en glorie, en die grense daarvan het van die Soedan tot Turkye gestrek.

Die nuwe jong Farao het gou 'n ander staatsreligie ingevoer en daarmee die fondamente van die Egiptiese Ryk geskud. Die bestaande politeïsme wat met 'n veelheid van natuurkragte geassosieer was, het hy vervang met die geloof dat daar net een God (Aton) is, wat hy met die son vereenselwig het. Dit het hy gedoen deur 'n ou Egiptiese woord vir die son ('aton') wat ook 'n ou 'n godsnaam was en wat vantevore op die agtergrond gestaan het, op die voorgrond, inderdaad in die middelpunt van 'n hele lewensbeskouing, te plaas. Aton, die enigste god, het alles geskape en onderhou alles: plante, diere, alle volke (nie net Egipte nie) en die groot natuurverskynsels. Akh-en-Aton, die Farao, is die seun van Aton.

Saam met sy legendaries-skone, geheimsinnige koningin, Nefertiti, het hy die bestaande orde dramaties omvorm. Hy het die Egiptiese hoofstad van Thebes af na 'n nuwe stad, Amarna, wat hy 500 kilometer ten noorde van die bestaande hoofstad langs die Nyl uit niks opgebou het, verskuif. Daar het hy 'n nuwe tempelkompleks ter ere van die son/Aton opgerig. Deur middel van 'n belastingstelsel op die ou tempels het hy die politieke oorheersing van sy nuwe religie bevestig. In die nuwe monoteïstiese religie waarvan hy self die hoëpriester was, is die ou religie wat in die diens van Amon gesentreer was, kwalik verdra. Kuns, argitektuur en sosiale omgang het nuwe rigtings ingeslaan, waarin daar probeer is om eenvoudig en spontaan te leef, in ooreenstemming met die vrye natuur onder die stralende lig van die goddelike son, die bron van alle lewe. Daardie lig was die bron en norm van ma'at (waarheid). Godheid, mensheid en natuur sou in harmonie saam wees. Die fassinasie met die doderyk het plek gemaak vir 'n beaming van die lewe.

Maar polities en militêr het dinge nie goed verloop nie, waarskynlik in 'n groot mate as gevolg van Akh-en-Aton se poging om 'n nuwe wêreldbeskouing op 'n ou orde af te druk. In Egipte was sy revolusionêre veranderings sowel simptoom as oorsaak van hewige politieke konflik. Die dromer-koning was geen politieke ekspansionis en militaris nie. Die Ryk het begin krimp. En die einde van hierdie Farao het begin. Rondom sy twintigste bewindsjaar, toe hy ongeveer vyf-en-dertig jaar oud was, verdwyn hy reeds uit die publieke oog. Selfs voor sy dood (dit is nie bekend wat die oorsaak daarvan was nie) het van die kant van die ou priester-orde in Thebes 'n verbete reaksie teen sy hervormings ingetree. In die herstel van die ou orde het die swak Tut-ankh-Amon (1357-1349 VHJ) (waarskynlik sy skoonseun) 'n groot rol gespeel. Akh-en-Aton se tempels is geskend. Die hoofstad is weer verskuif. Die ou orde het teruggekeer. El-Amarna het 'n spookstad onder die woestynsand geword. Alle pogings is aangewend om Akh-en-Aton se naam uit te wis, met 'n groot mate van sukses. Dit is selfs verwyder uit die amptelike lys van Egiptiese konings.

Maar so ongewild as wat hy in sy eie tyd was, so het sy aansien in latere tye in samelewings wat deur die monoteïstiese Jodendom, Christendom en Islam beïnvloed was, gegroei. In watter mate het hy selfs daardie ontwikkelende monoteïstiese opvattings beïnvloed? Kon hy Moses, wat twee generasies later in Egipte grootgeword het, help vorm het? Dra Psalm 104, waarin God as die Skepper van die skone natuur geloof word, die stempel van Akh-en-Aton se natuurmistiek? Heel waarskynlik. Hy was sy tyd eeue vooruit.

Oor geen Farao is so baie geskryf nie as oor hierdie jongeling met die buitengewoon lang skedel en ledemate soos hy in die standbeelde afgebeeld is (het hy 'n fisiese gebrek gehad?). Afgesien van akademiese werke, het daar oor hom en sy gesin tallose fantasieryke publikasies die lig gesien.

Daar is baie onopgeklaarde en waarskynlik onbeantwoordbare vrae. Waarom het hy so 'n dramatiese stap geneem? Was dit bloot 'n geval van misplaaste, oorhaastige, jeugdige idealisme? Was sy nuwe religie 'n berekende politieke ideologie om sy eie sentrale mag te verstewig: Één hemelse en één aardse bewindhebber? Het hy, selfs al was hy prins, om redes wat ons nie ken nie, homself op die rand van die sosiale orde bevind? Of het hy maar net uitdrukking gegee aan die progressiewe universalistiese kragte van sy tyd? Wie sou die jong man beïnvloed het om die rigting wat hy gekies het, op te gaan? Het hy 'n rigting wat reeds deur sy vader Amen-hotep III ingeslaan is, voortgesit en geradikaliseer? Het sy revolusie misluk omdat hy 'n roekelose deurdrywer was wat oorhaastig van verhewe idee na harde, praktiese politiek gespring het, of omdat hy 'n halfhartige, oneffektiewe politikus was? Ons het nie vaste antwoorde op hierdie vrae nie.

Wat wel vas staan, is dat hy op die vlakke van idees en sentimente die Egipte-sentriese nasionalisme, kollektivisme en tradisionalisme wat in sy tyd nog oorheersend was, na twee kante toe deurbreek het. Hy het die individuele mens as sentrum van denke en spontane gevoel en van 'n hoogs persoonlike verhouding tot die Transendente en tot die lewe in die algemeen beklemtoon; en hy het in 'n universele horison van alle mense en die natuur gestaan. Hierdie korrelatiewe pole – individualiteit en universaliteit – het vir die eerste keer in die bekende geskiedenis duidelik sigbaar geword as oriënteringspole waartussen die menslike lewe in, sosiaal gesproke, relatiewe groothede afspeel.

Ons neem aan dat daar 'n mistieke element teenwoordig was in sy siening dat lig – sigbaar in die stralende en alles-oorheersende son saamgebal en van daar af uitstralend – die mees fundamentele krag in die heelal is. Mens kan inderdaad sterk vermoed dat die skynbaar mislukte geestelike revolusionêr subjektief in 'n persoonlike relasie met daardie krag gestaan het. Inderdaad, hierdie sonderlinge figuur was 'n denker en profeet wat latere generasies bly fassineer het.

Die groot himne aan die son spreek vandag nog as die uitdrukking van 'n vervloë verlange om die bestaande grense van natuurreligie en religieus-politieke sentiment te verskuif. Hy wou nuwe uitdrukking gee aan die intieme samehang tussen 'n gelukkige menslike saamlewe in 'n universele konteks en 'n lig-deurstraalde kosmiese orde wat in sy persoon en sy funksie as Farao verenig was. Die son was vir hom die simbool van die mees fundamentele krag in 'n natuur-universalisme waarvan menswees deel was – van die groot kollektiwiteit van die Ryk af tot in die klein intimiteit van gesin en enkeling-wees. Politieke en sosiale orde, kosmologie en mistieke sentiment was in-een gestrengel.

Sy verering van lig en son as die bron van alles sou in later tye merkwaardige eggo's vind by uiteenlopende mense soos Franciscus van Assisi (1181/82-1226), Robert Grossesteste (c 1168-1253), Giordano Bruno (1548-1600) en Helmuth Friedrich Krause (1904-1973).

Prof. Kobus Krüger

1 Junie 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za