.

‘n Rasionalisering en bewyslas van die agnostiese lewensuitkyk teen die agtergrond van die lewe van Jesus van Nasaret

Deur Barend van der Merwe op 1 September 2014

.

Die idee dat geloofsisteme 'bewys' moet word is 'n nuwigheid. Hoe gerieflik is daar nie vir so baie eeue dinge met die gebruik van teksverwysings uit die Bybel 'bewys' nie? Maar vandag is die Bybel, net soos enige kennis, nie verhewe bo vrae nie. Dit hang saam met die opkoms van die modernisme, met sy klem op die wetenskaplike metode. Klassifikasiesisteme, met hulle meegaande begrippe soos 'modernisme' en 'postmodernisme', is natuurlik in eie reg verdag, nes politieke grense en nasionaliteite. Dit moet als bevraagteken word, maar word tog hier ingespan. Dit is relatiewe begrippe, maar dit besit ten minste mates van onbetwiste meriete.

Vir baie eeue was die Katolieke kerk se gesag oor geloof onbetwisbaar. In teenstelling met vandag, was die eerste volgelinge van Jesus, en ook die mees dominante groepering wat daaruit gevloei het, nie so gefikseer op die Bybel as bewyslas om hulle geloof te rasionaliseer nie. Want nie net had meeste van hulle nie skryf- en leesvermoë nie, maar ook die Bybel soos ons dit vandag ken, was nog nie gestandaardiseer nie. En die kuns van boekedruk het nie bestaan nie. Hierdie heel eerste volgelinge van Jesus het 'n vorm van Judaïsme aangehang, en Jesus as hulle messias gesien, wie se wederkoms hulle in hulle eie leeftyd verwag het.

Met die Protestantse reformasie, en die gepaardgaande vyf solas, waaronder sola scriptura, het die Bybel met sy kanon, soos vasgestel deur die staatsbeheerde Rooms Katolieke Kerk, na die sentrum van mense se geloof beweeg. Die Protestantse Reformasie het die wêreld onherroeplik verander, en mense bemagtig, deur hulle onder meer die waarde van hulle moedertale te laat ontdek. Maar hierdie nuutgevonde vryheid het talle onvoorsiene gevolge gehad, en dit was nie lank nie voordat daar vrae ontstaan het oor die gesag van die antieke geskrifte, en ook hoe hulle rangskik was.

Stadig maar seker het mense begin besef dat die antieke geskrifte deur gewone mense geskryf was, wat verskillend gedink het. Hulle het verskillende ervaringe gehad. As God tog 'n werklikheid is, is dit nie so dat elke mens uniek geskape is, en dinge uniek ervaar nie?

Anders as ander geloofsisteme, beskik die agnostiese lewensuitkyk nie oor baie eeue se breine wat spesifiek daaroor geteoretiseer het nie. Maar ons staar ons miskien soms blind teen wat presies in ons argiewe lê, en skenk te min aandag aan hoe dit wat wel daar lê, gerangskik en interpreteer word.

As daar een ding is wat duidelik is oor Jesus, dan is dit dat Jesus nie die bekendste mens geword het op aarde as gevolg van teorieë wat hy oor die wêreld gehad het nie. Volgens die dokumentasie in die Bybel oor Jesus, was Jesus iemand wat die ganse sosiale orde van die dag bedreig het. Deur reinheidswette te ignoreer, deur saam met armes en onbelangrike mense te eet, deur min gepla te wees deur 'wat die mense sal sê.' Dit was alles toe, nes vandag, ongehoorde dinge.

Die Bybelse Jesus was die man wat van ongeskoolde handearbeiders dissipels gemaak het. Hoe in kontras is dit nie met wat ons vandag ken nie! Vandag se wêreld, waar status, die hoeveelheid grade, die aantal antieke tale wat gelees kan word, en daarmee saam die regte vriendekring, so swaar weeg wanneer moderne mense 'n sinode hou nie!

In stede van net praat en teoretiseer, was Jesus iemand wat dinge gedoen het wat alles verander het.

As mens net kyk na hoeveel gelowe daar op aarde is. Hoe baie onderverdelings daar in hierdie gelowe is. Stap mens deur 'n moderne mark, in ons taal 'n "mall", dan kry jy daar reusagtige winkels wat suiwer bestaan uit godsdienstige lektuur. Ja selfs die winkels waar ook ander tipe boeke verkoop word, bevat gewoonlik 'n groot godsdienstige afdeling. Dit is asof hoe meer die mense soek en soek, hoe minder vind hulle dit waarna hulle soek. Ja, enige sogenaamde kennis oor God is verdag. Ook die ateïs, wat die intieme kennis van God eis dat daar geen god is nie!

Die agnostiese mede saamsoeker, moet oppas om nie in opposisie tot die tradisionele kerk posisie in te neem nie. Ons kan baie leer by kerke, veral oor hoe om welsynwerk te doen en om te gee vir andere. Daar moet ons egter ook nie die kerk verromantiseer nie. Ongelukkig is dit so dat die kerke hulleself meer dikwels as nie skaar agter heersende magstrukture. Dit het gebeur onder apartheid, en ook vandag is die kerke louwarm in hulle kritiek teen post-apartheid ongeregtighede. Ook die patriargie staan sentraal in die kerke se agenda. Hier en daar is daar wel klein bietjie vordering gemaak, maar die rol van mans en vroue word steeds baie graag getipeer in kerke, terwyl die realiteite van ons tyd totaal anders is as in die tye van die skrywers van die Bybel se boeke.

Die agnostikus Maria Elizabeth Rothman, of te wel MER, skryf in haar "outobiografiese vertelling" getiteld My beskeie deel (Tafelberg, 1972) nogal heelwat oor Jesus. Oor die sogenaamde 'grootste gebod' skryf sy: "Wie, wat en waar die God is wat ek bo alles moet liefhê, begryp ek nie; kan dit nie begryp nie; maar die tweede deel van die gebod (wat ek hoe gebrekkig ook probeer gehoorsaam het) werp vir my genoeg lig op die eerste" (p 288).

Sy skryf verder: "Maar enige begrip van God is buite my verstandelike en geestelike vermoë. Vir my kom dit voor dat die mens op hierdie aardbol nog lange ontwikkeling moet ondergaan om te weet of daar 'n einddoel is vir die aangroei uit die primitiewe toestand; 'n doel, uit Wie ontstaande, en Waarnatoe? ... Al waarop ek in my onkunde enigsins aanspraak kan maak, is liefde vir wat goed en skoon is. En tweedens, darem ook, liefde vir die ewemens. Liefde vir die ewemens; liefde van die ewemens. Ja, daarin lê die onsterflike" (p 293).

Wie is ek om hierdie wenner van die Hertzogprys vir letterkunde, gevierde Afrikaanse skrywer, 'n vrou wat deur die historikus professor Hermann Giliomee as een van die mees invloedryke Afrikaners ooit beskryf word, se gevolgtrekkings oor hierdie dinge eenkant toe te skuif? En te maak asof ek enige 'kennis' oor God beskik?

Die agnostikus kan die wêreld met trots in die oë kyk, want ons oortuiging is gebore uit logiese gevolgtrekkinge en na afloop van uitgerekte selfondersoek en selfkastyding. Daar is 'n rasionele basis van wat ons glo, en ook 'n bewyslas wat by die dag groei.

Barend van der Merwe is 'n argivaris verbonde aan die Vrystaatse Provinsiale Argief. Sy epos adres is

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.