Afrikaanssprekende mense se behoefte na
‘n Nuwe Spirituele lewensbeskouing

Deur Jaco Steyn op 1 Julie 2012

.

Die meeste godsdienstige mense is deel van 'n gemeenskap met 'n sekere regeringsvorm, kulturele waardes en ekonomiese stelsel. Alhoewel baie van hulle beweer dat hul geloof onafhanklik is van die besluite van politieke partye en politieke leiers, en dat hul godsdiensleiers nié politieke uitsprake behoort te maak nie, het godsdiensleiers al heel dikwels besluite geneem en uitsprake gemaak wat nié as volledig losstaande en onafhanklik van die politiek beskou kan word nie. Die politieke en finansiële status van mense kan ook nie volledig geskei word van hul geloofsoortuiginge nie, en op die ou end is daar tóg 'n verband tussen die alledaagse lewensomstandighede van mense, én hul geloof. Baie gelowiges wonder byvoorbeeld dikwels tereg waarom 'n veronderstelde Liefdevolle God dit kan toelaat dat die onderdrukking van die oorgrote meerderheid mense deur 'n korrupte elite, ongestraf kan voortgaan.

Baie van die ouer mense binne die Afrikaanssprekende gemeenskap het grootgeword binne 'n kulturele omgewing waarvan baie norme en waardes bepaal is deur hul kerkleiers en tradisionele Calvinistiese lewensbeskouing. Die positiewe houding van baie blanke Afrikaanssprekende mense tydens die sestiger- en sewentigerjare van die vorige eeu, is onlangs vervang deur neerslagtigheid, onsekerheid en 'n onderliggende vrees oor wat die toekoms vir hulle en hul kinders sal inhou. Die moontlikheid van verdere grondgrype deur die regering, gedurige plaasmoorde en geweldsmisdaad en die alliansie tussen die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, lei daartoe dat sommige Afrikaners sekere vrae begin vra oor die geldigheid van hul tradisionele godsdienstige oortuigings. Hulle wonder byvoorbeeld waarom God hulle nie langer beskerm teen 'n moontlike onafwendbare duister en uitsiglose toekoms nie. Baie van hulle het nog boonop vroeër jare geglo dat die Afrikanervolk op 'n manier spesiaal is in die oë van God.

Toe ek aan party van my familielede wat nog ywerige NG Kerklidmate is, vertel het dat ek 'n verslag geskryf het oor húlle kerk se afgelope Algemene Sinode se besluite in 2011, het hulle my met skaapagtige uitdrukkings in hul oë aangekyk asof ek nou verspot is om my met sulke onsinnighede op te hou! Blykbaar was hulle kerk se doen en late vir mý belangriker as wat dit vir hulle was, al het ek die afgelope bykans 20 jaar net van hulle kerkdienste gedurende troues en begrafnisdienste, bygewoon. Ek besef dus dat die meeste kerkgangers nie bereid is om die geldigheid van hul kerke se dogmas deeglik te ondersoek nie. Rugby, braaivleis, sepies op die TV en bekommernisse oor skuld en probleme by die werk, is vir hulle baie meer van belang as gesprekke oor die wese van die Goddelike, die lewe na die dood en multinasionale besighede se betrokkenheid by die agteruitgang in wêreldtoestande.

Terwyl baie Afrikaanse mense ontevrede is met die huidige toestande in die land, maar nog steeds gereeld kerkdienste bywoon, is daar tog 'n groeiende minderheid wat begin twyfel oor die geldigheid van die tradisionele godsdienstige en kulturele waardes waarbinne hulle grootgeword het. Sommige van hierdie andersdenkendes of sogenaamde afvalliges is teoloë en wetenskaplikes wat besef dat kerklike dogmas en die letterlike verstaan van die Bybel, strydig is met die nuutste bevindings van Bybelwetenskaplikes en van Natuurwetenskaplikes. Baie van hierdie intellektuele is kundiges binne hul eie vakgebied, maar hulle is egter dikwels naïef betreffende die grondwaarhede van ander terreine soos o.a. die politiek. 'n Teoloog kan dus 'n kenner wees van die Ou Testament sowel as die historiese agtergrond van die skrywers van Bybeltekste, maar hy kan soms uitlatings maak oor die politiek sonder om genoegsame agtergrondskennis daaroor te hê.

Dis vir baie mense makliker om iemand anders te kritiseer en sekere denkrigtings te dekonstrueer, as wat dit is om met positiewe alternatiewe vorendag te kom. Dis maklik om vir die wêreld te vertel hoe dom of mal mense is wat nog glo dat die Bybel die letterlike Woord van God is, maar dit is nié so maklik om iets anders in die plek daarvan te stel wat genoegsame sin en betekenis aan mense se lewens kan verskaf nie. Skeptiese ateïste is dikwels oorhaastig in hul ywer om die gek te skeer met Christen-fundamentaliste se verspotte idees, maar wanneer iemand húlle vra om beter antwoorde op die wêreld se probleme te verskaf, is dit gewoonlik 'n geval van "run like hell to get away from the bothersome questions"!

Baie geleerdes is uitstekend wat betref hul ontleding van sekere aspekte van hul eie studieveld, maar wanneer hulle nié "oop" genoeg dink of ondersoek instel nie, veroorsaak hul beperkte perspektiewe dat hulle nie met beter alternatiewe lewensbeskouinge vorendag kan kom nie. 'n Goeie voorbeeld hiervan is verskeie "liberale" teoloë wat deeglike kennis het aangaande die feit dat die Bybel nié as onfeilbaar beskou kan word nie. Hulle kan egter met geen beter alternatiewe spirituele lewensbeskouinge vorendag kom wat gewese gelowiges kan aanvaar om die leemte te vul wat deur hul nuutgevonde ongeloof veroorsaak is nie. Hulle is gewoonlik ook huiwerig om die politieke gevolge van godsdienstige idees genoegsaam te verduidelik aan die gewone "man op straat". Soekers wat poog om antwoorde te vind op lewensvrae en wat gebruikmaak van inligting vanuit allerlei lewensterreine waarmee hulle hul eie lewensbeskouing konstrueer, is dikwels gefrustreerd met die apatie van die meeste mense en die soms oningeligte uitsprake van geleerdes t.o.v. terreine waaroor daardie geleerdes weinig genoegsame agtergrondskennis het. Hulle het soms 'n behoefte aan 'n lewensbeskouing wat méér omvattend is as 'n intellektuele gesprek oor die dwaashede van Godsdienstige Fundamentalisme – 'n lewensbeskouing wat allerlei aspekte van die lewe aanspreek, hetsy dit nou seksualiteit, die ekonomie, die wetenskap of die politiek is.

Ek het gedurende 2008 aktief begin betrokke raak by verskeie organisasies wat bestaan uit "andersdenkende" Afrikaanse mense. Wat my die meeste gefrustreer het by hierdie organisasies was baie mense se onvermoë om een uitgediende geloof met 'n ander "beter" geloof te vervang. Baie andersdenkendes erken dat hulle nie meer bereid is om in enigiets te glo nie, en beskou hulself as "postmoderne" mense wat geen stel morele waardes bo 'n ander verkies nie. Hulle verkies om die "baba met die badwater uit te gooi" en om almal te kritiseer wat met sinvolle lewenswaardes vorendag kom. Ek het baie ateïste ontmoet wat deel is van hierdie bewegings, waarvan die meeste ordentlike mense is wat op die oog af geen godsdienstige dogma benodig om hulle te motiveer om ander mense met respek te behandel nie. Ek het ongelukkig ook ánder ateïste ontmoet wat die onbeskofste mense is wat ek al ooit in my lewe raakgeloop het – baie erger as enige Christen-fundamentalis waarmee ek al te doene gekry het. Die probleem is dat hierdie mense die beste ammunisie vir Christen-fundamentaliste is, juis omdat baie Christen-fundamentaliste beweer dat ongelowiges van staanspoor af ontslae raak van alle "goeie" morele waardes. Ek moet erken dat ek gedeeltelik met hierdie siening saamstem omdat ek sulke ongelowiges persoonlik ontmoet het. Ek het deesdae meer as 600 Facebook-vriende, waarvan die meeste Christen-fundamentaliste is. Ek het egter nog net 3 mense op Facebook geblok, waarvan almal "dogmatiese" ateïste is!

Baie hedendaagse ateïste is slagoffers van 'n "big fish eats little fish"-lewensbeskouing, waarvolgens mense behoort te aanvaar dat die lewe hoofsaaklik handel oor die sterkere en meer aanpasbare mense wat die swakker en "dommer" mense misbruik en onderdruk. Wat hierdie mense gerieflikheidshalwe vergeet is dat daar op die ou end géén klein vissies meer sal wees wat deur die groot vis verslind kan word nie. Die groot vis sal dan op die ou end sterf omdat daar geen voedsel vir hom sal wees nie. Die logiese uiteinde van hierdie spesifieke Materialistiese Ateïstiese lewensbeskouing is dus dieselfde as die lot van 'n selfverterende monster. Hierdie brief in 'n Afrikaanse dagblad is 'n goeie voorbeeld van die kleinlike selfsug van baie hedendaagse blanke Suid-Afrikaners, wat die gevolg is van daardie lewensbeskouing. Hedendaagse Westerse mense se wegbeweeg vanaf hul tradisionele Christelike waardes het ongelukkig gepaardgegaan met toenemende verbruikerisme sónder die inagneming van die welsyn van die res van die mensdom en plant- en dierelewe. Ongelukkig is daar ook deesdae "dogmatiese" ateïste soos Hans Pietersen en dr. Piet Croucamp in Suid-Afrika, wat hulself daarvoor beywer om die ou uitgediende Christelike norme en waardes te vervang met iets wat baie erger as dit is, nl. óf die sosialisme van die ANC óf die kommunisme van die SAKP, wat uiteindelik sal ontaard in 'n onderdrukkende eenpartydiktatuur.

Wanneer sommige spiritueel-bewuste soekers na die waarheid besef dat daar wesenlike raakpunte is tussen spiritualiteit en die alledaagse lewe, is hulle dikwels méér bereid om uit te vind in watter opsigte die politiek en die wetenskap aansluiting vind by spiritualiteit – meer bereid as ánder meer geleerde filosowe en teoloë. Hulle besef dat daar ook ánder spiritueel-bewuste denkers is wat nie slegs van die môre tot die aand sit en mediteer en probeer om gelykmatigheid (Engels: equanimity) na te streef nie, maar dat daardie ander spirituele "bondgenote" van hulle, dikwels aktiewe weerstand bied teen die booshede en ongeregtighede in die wêreld. Hulle moet gevolglik bereid wees om minder naïef te wees t.o.v. die aaklige werklikhede van daaglikse wreedhede en politieke magsmisbruike.

Baie ánder spiritueel-bewuste mense is ongelukkig dikwels naïef t.o.v. politieke kwessies. Indien iemand soos byvoorbeeld Julius Malema voorgee dat hy homself beywer vir die welsyn van die meeste swartmense, sal hulle hom ondersteun sonder om te besef dat hy eintlik 'n pion is van (miskien Sjinese?) belangegroepe wat hul eie welsyn bevorder ten koste van die meeste mense in die land. Grondgrype klink op die oog af of dit die belange van arm swartmense sal bevorder, terwyl die magtige belangegroepe wat dit propageer, besef dat grondgrype hongersnood kan veroorsaak en dat die vervalle plase uiteindelik deur húlle maatskappye goedkoop opgekoop sal word. Gelukkig is daar 'n groeiende minderheid spiritueel-bewuste mense wat bereid is om deeglike ondersoek in te stel oor die wáre toutrekkers van "politieke marionette" agter die skerms en wat hierdie feite aan andere probeer weergee.

Daar is by sommige "soekers na die waarheid" 'n soms onbewuste behoefte na 'n Nuwe Spirituele lewensbeskouing wat aan hulle beter riglyne kan verskaf aangaande morele kwessies en wat hulle nie slegs help om te mediteer of om rustiger te lewe nie. Hulle persoonlike reis na die Goddelike is vir hulle onlosmaaklik deel van hul strewe na 'n beter wêreld en beter lewensomstandighede vir almal. Omdat baie van hulle glo dat hulle meer as 'n honderd jaar van nou af in 'n ander fisiese liggaam op die planeet aarde sal inkarneer, sal dit op die ou end óók tot hulle voordeel wees om dan in omstandighede te lewe waarbinne dit vir hulle makliker sal wees om die Goddelike in hul eie lewens te manifesteer. In teenstelling daarmee glo baie Christene dat God in elk geval eendag 'n "Nuwe Aarde" tot stand sal bring, en dat dit daarom nié hulle plig is om dit nóú al te realiseer nie. Baie selfgesentreerde ateïste en materialiste daarenteen, fokus op hul eie en hul vriende en families se tydelike materiële welsyn en vir hulle maak dit hoegenaamd geen sin om hulle te bekommer oor wat die omstandighede in die wêreld oor meer as 'n honderd jaar van nou af sal wees nie.

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 083 384 1115. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za