Adam, Eva, die boom en die slang

Deur Dr. Piet Muller op 1 Julie 2012

Dr. Piet Muller

Ondanks die werk wat in die Twintigste Eeu oor mitologieë gedoen is deur navorsers soos Carel Gustav Jung, Mercia Eliade en Joseph Campbell, is daar nog mense wat ontsteld en selfs vyandig raak as 'n mens mitologieë gebruik om tot die kernbetekenis van godsdiens deur te dring. Die Cartesiaanse dualisme tussen rede en gevoel, wat grootliks die Protestantisme onderlê, sal wel hier iets mee te doen hê.

Joseph Campbell het in sy Hero with a Thousand Faces opgemerk dat as predikante net besef hoe kragtig mites op die mens se psige inwerk, hulle almal Sondae oorvol kerke sal hê. Jung self was van mening dat die stories wat godsdienste oor hulself vertel, die sleutel is tot die verstaan daarvan. So het hy (ondanks sy Protestantse agtergrond), 'n ernstige studie gemaak van die mitologiese agtergrond van die Katolieke mis en die helende werking daarvan op die menslike psige. Oor die Christus as argetipe het hy bevind dat dit die Westerse mens se simbool van persoonlike heelheid is. Jung het mites beskou as die "oertaal" van die mens se psigiese prosesse en geglo dat geen intellektuele formulering naastenby die rykdom en ekspressiwiteit van mitologiese beelde het nie.

Volgens Jung het mites behoort tot die wêreld van die argetipes (van arche + tupos = eerste afdruk of eerste gietvorm), simboliese elemente in wat hy die kollektiewe onbewuste genoem het en wat die neerslag is van miljoene jare se menslike ervaring, soortgelyk aan instinkte by diere. Daarom kom dieselfde simbole en selfde soort mites in alle kulture voor en beteken dit oral dieselfde. Voorbeelde van argetipes is die held, die vader en moeder, die priester en die prostituut; of diere soos die slang of die leeu; plante soos die blom en die boom. Ook objekte soos goud of kastele. Mense het 'n natuurlike aangetrokkenheid, byna 'n obsessie, met sulke simbole, het Jung bevind.

So het Jung gevind dat die held-argetipe iemand verpersoonlik wat moedig groot struikelblokke oorkom wat in die weg staan van die verwesenliking van sy lewensdoel. Wanneer 'n mens met so 'n simbool in aanraking kom inspireer dit jou om dieselfde op jou eie lewensweg te doen. Die boom verteenwoordig weer die mens se strewe tot selfvervulling.

. .
'n Voorstelling van Yssdragill, die wêreldboom, en
van Odin wat homself daarin offer.

Bome as argetipes kom in die mitologieë voor van kulture wat so ver uitmekaar lê as Sentraal-Amerika en Siberië, gewoonlik in die vorm van die wêreldboom, wat tegelyk die middel van die wêreld (die axis mundi) is en ook die pilaar waarop dit rus. In die Hongaarse mitologie is daar die boom vilagfa, in die Slawiese mitologie is daar sprake van 'n reuse eikeboom en in die Hindoemitologie van die heilige vyeboom Ashvattha.

In die Noorse mitologie is daar die bekende boom Yssdragill, wie se takke die hemele ondersteun, en wie se een wortel tot by die bron Uroarbrunnr in die hemel strek, sy tweede wortel tot by die bron Hvergelmir en die derde tot by die bron Mimisbrunnr. In hierdie boom leef ondermeer die draak Niogöggr. Hierdie boom is 'n bekende bymekaarkomplek van die gode, en die god Odin het homself op 'n keer nege dae lank as 'n offer aan die boom opgehang.

In stansa 137 van die gedig Havamal sê Odin, in 'n Engelse vertaling:

I know that I hung on a windy tree
Nine long nights,
wounded with a spear, dedicated to Odin,
myself to myself,
on that tree of which no man knows
from where its roots run.

Die tema van 'n god wat aan 'n boom hang/gekruisig word, kom eweneens in talle mitologieë voor. Dionysos word aan 'n boom gekruisig, voordat hy weer opstaan en homself as god openbaar. Soos Sir James Fraser in sy bekende boek, The Golden Bough opmerk (hoofstuk 43): In die Oudheid het die beskaafde volkere van Wes-Asië en Egipte die veranderinge in seisoene en veral jaarlikse groei en afsterwe van plantegroei, beskou as episodes in die lewe van gode wie se treurige dood en heerlike opstanding gevier is met dramatiese voorstellings en musiek, wat of treurig of vrolik was.

Die Alexandrynse gnostikus, Valentinus (wat op sy dag een van twee kandidate was om die amp van Biskop van Rome = Pous), skryf in sy Evangelie van Waarheid hoe Jesus aan die lewensboom gespyker is en daardeur vir ons die vrug van die boom van die lewe word. Dit is trouens 'n tema wat deur die hele Katolieke Middeleeue loop en die kruis is dikwels beskou as 'n voorstelling van die lewensboom.

In Genesis 2 kom ons ook die wêreldboom teen in die "middel van die tuin": "En die Here God het 'n tuin geplant in Eden ... en allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van kennis van goed en kwaad...

"En die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet sal jy die dood sterwe." (1933-vertaling.)

'n Mens wonder of die finale redaktor van Genesis 2 nie een boom met twee funksies in gedagte gehad het nie, want albei bome kan onmoontlik tegelyk in die middel van die tuin staan? Tog word daar later in die hoofstuk na die boom van kennis van goed en kwaad verwys as die boom wat in die middel van die tuin staan.

Die boom van die lewe in die middel van die tuin het nou wel nie 'n draak gehad soos Yssdragill nie, maar 'n slang. Wikipedia beskryf 'n draak as "'n legendariese wese, tipies met slangagtige en reptielliese trekke." Trouens, die woord draak kom van die Grieks drákōn, wat draak, groot slang of waterslang kan beteken, en wat waarskynlik afgelei is van die woord drakeîn, 'om helder te kan sien'.

. .

'n Chinese uitbeelding van drake en daarnaas die staf van Asklepios.

Hierdie vermoë van die slang om helder te kan sien, maak van hom die ideale boodskapper wat kennis van onder die aarde (die onbewuste) na bo-op die aarde (die bewussyn) neem. Die slang kom volgens Jung tot vandag toe nog in hierdie gedaante voor in die drome van moderne mense. Die slang het ook die vermoë om te vervel en telkens 'opnuut gebore' te word en is daarom ook die simbool van opstanding en van genesing. Die staf van Asklepios is 'n bekende simbool van die Griekse god van medisyne en genesing.

Die genesende slang kom ook in Numeri 21 voor: Wanneer God die klaende Israeliete deur giftige slange laat aanval, kry Moses hierdie raad van God: "Maak vir jou 'n giftige slang en sit dit op 'n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe." (1933-vertaling.)

.
In hierdie skildery deur Hugo van der Goes (ca. 1470) word die pratende slang voorgestel as iets tussen 'n slang, 'n reptiel, 'n draak en 'n mens.

Die heldersiende slang wat boodskappe vanaf die onbewuste na die mens se bewuste oordra, kry ons ook in Genesis 2. In die tuin van Eden leef die mens en sy vrou, nes die diere, gelukkig en poedelnakend, "maar hulle het hul nie geskaam nie". Totdat die slang opdaag en ewe slinks vra of dit so is dat hulle nie van die vrugte van die tuin mag eet nie? Waarop die vrou, byna verontwaardig, antwoord dat hulle natuurlik van al die vrugte mag eet, "maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: 'Julle mag nie daarvan eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.'

"Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken."

Natuurlik het dit die vrou nuuskierig gemaak en kort voor lank het sy en haar man daarvan geëet." Toe gaan altwee se oë oop en hulle gewaar dat hulle nakend is." Waar hulle voorheen in salige onbewustheid geleef het, het hulle skielik bewussyn en begin hulle dualisties dink: goed en kwaad; mooi en lelik; sleg en goed; ons en hulle; ek en jy; manlik en vroulik...

Hulle het elkeen nou 'n ego en dit is eintlik nie eens nodig dat God hulle uit die tuin verdryf nie, want hulle pas net nie meer daar in nie en kan nie anders as om die moeisame pad na beskawing en kultuur te loop nie. Hulle eie ego en sy gepaardgaande dualistiese denke is die gerubs met die vurige swaard wat hulle uit Eden hou. Daarom word hulle ook bewus van hul sterflikheid, want dood beteken die einde van die ego.

.
'n Sri-Lankaanse beeld van die mediterende Boeddha wat deur die kobra beskerm word.

Soos Siddharta Gautama, die Boeddha (verligte), 2600 jaar gelede gesê het: Die grootste oorsaak van menslike lyding is die besef van 'n self, 'n persoonlikheid en 'n leeftyd.

In die verhaal van hoe Siddharta verligting bereik het ontmoet ons weer eens die wêreldboom, die keer die Hindoeboom Ashvattha, wat nou die Bodhi-boom word, die boom van verligting. En natuurlik 'n slang...

Joseph Cambell skryf in sy essay The Emergence of Mankind (uit Myths to Live By): "In die Indiese mitologie is daar 'n reuse kobra wat veronderstel is om die plat aarde op sy kop te balanseer: sy kop rus natuurlik op daardie hefboompunt, presies onderkant die wêreldboom. Volgens die Boeddha-legende, toe die Geseënde, nadat hy verligting bereik het, voortgegaan het om vir etlike dae lank in diep meditasie te bly sit, is sy lewe deur 'n geweldige storm bedreig. Toe het hierdie yslike slang van onder af boontoe gekom, sy kronkels beskermend om die Boeddha gedraai en hom van bo beskerm met sy kobra-kop."

Campbell gaan voort: "Die boom waaronder die Boeddha gesit het kom dus ooreen met die tweede boom van die tuin van Eden, wat natuurlik nie letterlik beskou moet word as 'n tuin wat geografies iewers is nie, maar as 'n tuin van die siel. Wat verhinder ons dus om daarheen terug te keer en soos die Boeddha daaronder te gaan sit? Wie of wat is die twee gerubs? En weet die Boeddhiste ook van so 'n paar?" (Campbell, op cit.)

.
Die dreigende wagte by die hek van Nara
se Boeddha-tempel.

Campbell verwys dan na die reuse brons Boeddha van sowat 23 meter in die Japanse stad Nara. Die Boeddha sit met sy regterhand opgelig in die vrees-nie-houding, maar voordat 'n mens die terrein van die tempel kan binnestap, waar die beeld is, moet 'n mens eers by twee dreigende brons wagte verby stap. "Hulle is die Boeddhistiese ekwivalent van die twee gerubs wat Jahwe by die hek van die tuin geplaas het. Maar hier mag 'n mens jou nie deur hulle laat afskrik nie. Die vrees vir die dood en die begeerte tot die lewe, wat hierdie dreigende wagte by 'n mens wek, moet agtergelaat word as 'n mens wil binne stap...

"Volgens die Boeddhisme is dit nie die wraak van 'n god wat ons uit die tuin hou nie, maar ons eie instinktiewe verkleefdheid aan wat ons as die lewe beskou. Ons sintuie, wat buitentoe gerig is na die wêreld van ruimte en tyd en ons verkleef laat raak aan daardie wêreld en ons sterflike liggame in daardie wêreld. Ons is onwillig om dit op te gee wat ons as die vreugdes en plesier van hierdie lewe beskou, en ons verkleefdheid hieraan is die hindernis wat ons uit die tuin hou. Dit en dit alleen verhoed ons om binne onsself die onsterflike en universele bewussyn te ontdek waarvan ons uitwaarts-gerigte sintuie bloot die agente is ... Wat gesimboliseer word deur die pad deur die bewaakte hek is die aflegging van sowel ons beskouing van die wêreld as van ons beskouing oor ons lewe in hierdie wêreld: die wêreld van fenomene, die beskouing dat alles gebore word en weer sterwe, wat ons gevolglik ook met begeerte en vrees bejeën en onderskeidelik as goed of kwaad beskou.

"Van die twee reuse Boeddhistiese gerubs is een se mond toe en die ander een oop – as simbool (so is my vertel) van hoe ons dinge in die tydelike wêreld as pare teenoorgesteldes sien. Wanneer ons tussen hulle twee deurloop moet ons sulke denke agterlaat.

"Maar is dit nie ten slotte ook maar die les van die Bybelverhaal nie? Eva en Adam het van die vrug van kennis van goed en kwaad geëet, dit wil sê van die pare teenoorgesteldes en dadelik het hulle hulself as verskillend ervaar en skaam gekry ... Verder het hulle God nou begin ervaar as gans 'anders', as wraaksugtig en gevaarlik vir hulle; en die gerubs by die tuin se hek was die simbool van hierdie manier – nou ook hulle manier – om God te ervaar. Maar soos ons in die Bybel-legende hoor sou dit moontlik gewees het vir Adam 'om sy hand uit te steek na die boom van die lewe, daarvan te neem en te eet, en vir ewig te lewe.' En in die Christelike beeld van die gekruisigde verlosser is dit presies wat van ons verwag word om te doen. Die leerstelling hier is dat Christus die mens se onsterflikheid herstel ... Hy het self, by wyse van spreke, moedig deur die bewaakte hek gestap, sonder vrees vir die gerubs of die vlammende swaard. En net soos die Boeddha vyfhonderd jaar tevore, het hy alle ego-inhoude, begeertes en vrese agtergelaat, om homself te leer ken as die suiwer, onsterflike Niks. So het die Westerse Verlosser sy liggaam aan die boom laat vasnael en in gees versoening (atonement = at-one-ment) met die Vader bereik om gevolg te word deur onsself." (Campbell, op cit.)

Die verhaal van die slang, die boom en die tuin van die lewe is veel ouer as sowel die Boeddhisme of die Christendom en kom al voor in die spykerskrif-silinderseëls van Soemer. (Campbell, op cit.) 'n Mens kan nie genoeg herhaal dat hierdie verhaal nie in die objektiewe, geografiese wêreld afspeel nie, maar in die landskap van ons psigiese lewe. Om dit anders te wil sien is om die helende simbole van die verhaal mis te kyk.

Wat hierdie verhaal vir ons tyd relevant maak is omdat dieselfde psigologiese benadering tot verlossing ook in die vroegste Jesus- geskrifte voorkom. 'n Mens kan nie help om aan die openingswoorde van die Evangelie van Thomas te dink nie:

Hier volg die verborge woorde wat deur die lewende Jesus gespreek is ... Hy sê: "Wie die dieper betekenis van my woorde ontdek sal die dood nie smaak nie."

Byna onmiddellik daarna spreek Jesus hom uit teen dualistiese en literalistiese denke (vers 3):

"As julle onderwysers julle vertel die koninkryk is in die hemel moet julle oppas dat die voëls van die hemel nie voor julle daar is nie. As hulle sê: 'Dit is onder die aarde,' pasop dat die visse van die see nie voor julle daar is nie. En hy sê: 'As julle julself ken sal julle geken word en julle sal besef dat julle die kinders van die Lewende Vader is. Maar as julle julself nie ken nie leef julle in (geestelike) armoede en julle self is die armoede." (Vertaling, Piet Muller.)

Jesus verkondig 'n Koninkryks-evangelie en nadat sy dissipels weer van hom wou weet wat hulle moet doen om in die Koninkryk van die Vader binne te gaan, verduidelik hy:

"As julle die twee een maak en as julle die binnekant soos die buitekant maak en die buitekant soos die binnekant, die bokant soos die onderkant en die onderkant soos die bokant; as julle manlike en vroulik een maak, sodat die manlike nie meer manlik en die vroulike nie meer vroulik is nie; as julle die ligaamlike oog vervang met 'n geestelike oog en die liggaamlike hand met 'n geestelike hand; as julle van jul loopbaan 'n lewensweg maak en jul uiterlike voorkoms vervang met die beeld van God in julle siel, dan sal julle die koninkryk binnegaan."

Helaas (vers 113): "... die koninkryk is al uitgesprei oor die aarde en tog sien mense dit nie."

Om afskeid te neem van dualistiese denke is seker die moeilikste taak wat 'n mens op die spirituele pad kan onderneem. Daarom dat daar baie by die deur sal staan "maar net die eenlinge sal die bruidsvertrek binnegaan." (Vers 75.) Trouens, die vermaning om van die twee een te maak en heel te word, loop soos 'n goue draad deur hierdie evangelie. So ook die vermaning om afstand te doen van alle aangeleerde dogmas en opvattings, om weer "'n kind van sewe dae" (vers 4) te word, sodat 'n mens in hierdie lewe al die koninkryk kan binnegaan.

Hoewel die Evangelie van Thomas tussen 'n groot aantal Gnostiese geskrifte by Nag Hammadi gevind is, is dit self nie Gnosties nie, maar tipies Judees. Trouens die oudste laag van hierdie spreuke-evangelie bevat moontlik die heel oudste optekening van die woorde van Jesus. Die Nederlandse geleerde, Gillis Quispel, wat die Thomas-evangelie geïdentifiseer en die wêreld ingelig het oor die Nag Hammadi-biblioteek (op 'n Patristiese kongres in Oxford, 1957, waar die Amerikaner James Robinson ook teenwoordig was), reken dat hierdie woorde dalk so vroeg as die jaar 40 reeds in Jerusalem gesirkuleer het (Het Evangelie van Thomas, 2005).

Tog vind hierdie woorde, en die benadering tot spiritualiteit wat dit uitdruk, groot aanklank by soekers van die een-en-twintigste eeu.

© Dr. Piet Muller, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za