.

30 dae, 30 dinge

Deur Johannes de Villiers op 1 Maart 2014

.

Tien jaar gelede het ek in Galilea, in die noorde van Israel, die plek besoek waar die vermeerdering van die broodjies en vissies volgens oorlewering 2000 jaar gelede plaasgevind het. Dis 'n ope vraag of dié wonderwerk homself inderdaad daar afgespeel het, maar as mens toeris is, word jy mos maar deur 'n plek begeester, en in 'n oomblik van godvrugtige entoesiasme het ek 'n bondel goue vissies gekoop om by die huis as soeweniers uit te deel.

'n Dekade later lê daai vissies steeds in my laai. Tuisgekom het ek gewik en geweeg vir wie ek dit gaan gee, maar een of ander genetiese inhaligheid het ingeskop en my oortuig dit sou my beduidend verarm as ek hulle weggee. En so, al het ek sedertdien vyf keer verhuis en nooit 'n sekonde se praktiese nut uit hulle gekry nie, klou ek aan die vissies vas.

My huis is tóé onder wit olifante. 'n Beeldjie van 'n baba-engeltjie wat my ma in Italië gekoop het. Hoede wat ek op plattelandse kerkbasaars aangeskaf het. Rolprentplakkate uit my tienerdae. Geroeste kombuisgereedskap. Ongebruikte oefengewigte wat ek gekoop het nadat ek dit in Men's Health gesien het.

Dié gemors maak minstens vier bokse vol elke keer as ek trek.

Die sielkundige Oliver James noem dit "affluenza". Ons bourgeois-lewens word oorheers deur die tonne en tonne materiële goed wat ons opgaar, saamsleep en moet beskerm. Ons besit veel meer dinge as ons oupas en oumas, maar ons is meetbaar minder gelukkig. Kan dit wees dat ons stoflike besittings ons nie gelukkig maak nie, maar eerder versmoor?

Dit is veral sedert die Industriële Revolusie dat Westerlinge hul huise en lewens tjok-en-blok vol stop met goed waarvan ons voorsate nie eens nie geweet het nie. Dat enigiemand ooit sonder 'n TV kon leef, is meteens ondenkbaar. Wat nog te sê sonder 'n mikrogolfoond? Lewe sonder 'n motorradio? Gmf! Sonder 'n iPad – is jy mal?

Ek het die eerste keer ernstig hieroor nagedink toe ek gelees het van die 100-dinge-uitdaging, 'n projek waarin mense hul besittings tot net 100 items probeer verminder. Wat doen jy met meer as een stel messe en vurke as jy alleen woon en nooit gaste kry nie? vra hulle.

Om jou besittings te verminder help jou besef hoe irrasioneel jou verknogthede is, skryf 'n deelnemer, Dave Bruno op sy blog. Weggee was vir Dave maklik totdat hy van sy tweede denimbroek ontslae moes raak. Blykbaar sukkel vroulike deelnemers veral om hulself te oortuig dat hulle nie 20 plus pare skoene nodig het nie, berig Time.

Ek kyk meteens nuut na my huisraad. Hoekom staan daai tafel ná vyf jaar nog opgevou in my garage? Hoekom besit ek 'n broodrooster as ek al twee jaar lank weet ek is gluten-intolerant?

Toe ek met die Johannesburgse predikant Ronell Bezuidenhout hieroor gesels, kom sy met 'n plan vorendag. Wat sou gebeur as ons albei onderneem om 30 dae lank elke dag 'n besitting weg te gee?

En net so begin ons ons eie 30-dae-weggeemarathon. Ons marathon het selfs reëls. Jy moet elke dag iets anders weggee (nie net daagliks 'n sokkie by die nagskuiling aflaai nie). Jy moet weggee eerder as weggooi.

In haar ywer vir die projek skryf Ronell selfs 'n brief aan haar gemeente. "Dis vir my nodig om myself daaraan te herinner dat niks wat ek besit werklik 'myne' is nie. Ek neem net so veel van my eie gierigheid-om-te-besit afskeid, as wat ek die dissipline van vrygewigheid inoefen."

Op dag een, laai ek dus daai verdomde goue visse in my rugsak werk toe. Maar teen die middag sit ek in 'n koffiewinkel en besef ek het nog nie die moed bymekaargeskraap om die visse weg te gee nie. Ek plak hulle op die tafel langs die fooitjie en kies koers deur toe. Nou is die visse deel van die kelnerin se affluenza eerder as myne. Wat sal sy van my vreemde gebaar dink? Ek voel niks armer nie.

Op dag twee neem ek 'n pers hoed wat ek nooit dra nie, vir 'n kollega. Dis nogal 'n lelike hoed, maar sy waardeer die gebaar.

Dag drie is moeilik. Ek besluit om die baba-engeltjie wat my ma van haar Italiaanse vakansie teruggebring het, weg te gee. Dis nogal kitsch en ek kan nie dink vir wie om dit te gee nie. Uiteindelik gewaar ek die skrywer Dana Snyman op 'n sypaadjie. Ek stop die beeldjie in sy hand. "Ek sal jou vergewe as jy dit vir iemand anders weggee," sê ek.

"Ek sal nie kan nie," sug Dana. "Ek is te bygelowig."

Hier is 'n paar lesse wat die maand my leer:

1.  Dis vrek-lekker om die huisbediende te wees van iemand wat 'n weggeemarathon doen. Rachel lag oopmond elke keer as sy met 'n stoomkoker of broodrooster die huis verlaat.

2.  Partykeer is weggee eenvoudig. Op dag 15 staan die sekuriteitswag van my kompleks buite in die sousreën. Ek gebruik nooit my sambreel nie. Maklik.

3.  Partykeer moet jy jou brein rek. Ek het een keer lank gelede 'n neti-pot gekoop – 'n Indiese keteltjie vol soutwater wat jy in jou neusgat steek sodat dit die snot uit jou verstopte sinuskanale was. (Dit het op die tydstip na 'n goeie idee geklink.) Die neti-pot staan ongebruik in my huis, maar vir wie kan ek dit weggee wat dit nie vir 'n teepot gaan aansien en vir huisgaste daarin rooibos gaan maak nie? Uiteindelik onthou ek die Hare Krishnas is mal oor enigiets van Indië, so ek vat my neti-pot vir hul plaaslike voorsitter. Hy glimlag van oor tot oor. Elke pot kry sy deksel.

4.  Party goed verras jou. Ek het so twee jaar terug die plaas besoek waar Siener van Rensburg gelewe het en daar 'n klip as memento opgetel. Dié klip vergader stof in my huis. Eendag vertel my kollega Simphiwe Sesanti my van sy belangstelling in Afrika-sieners soos Credo Mutwa. Hy het egter nog nooit van Siener van Rensburg gehoor nie. So die volgende dag vat ek vir hom my Siener-klip met 'n brief oor die Boereprofete in die ou Transvaal. Ha!

5.  Almal raak opgewonde oor weggee. Ek gee 'n wolmus vir 'n vrou wat by my kollega kuier. Sy kan nie ophou lag nie. Ek gee 'n stapel CD's vir Antie Anne by die hospies-winkel. Sy kraai van plesier. Ek gee twee ou kersstaanders vir 'n onderwysers wat ek skaars ken. Sy gaan onkeerbaar aan die klets oor waarde van goeie werke en hoe haar leerlinge soms by die plaaslike ouetehuis kuier.

By die koffiekroeg waar ek op dag een my goue vissies weggegee het, keer die kelnerin my voor. "Jy het die ander dag jou vissies hier vergeet."

"Ek het dit eintlik aspris vergeet," sê ek verleë. "Jy kan dit maar hou." Sy gil van plesier. "Ek is 'n Pisces! Dis 'n teken!" Nou toe nou.

In Galilea, onthou ek, het ek 'n kennisgewingbord gesien met die woorde: "Liefde is soos vyf broodjies en twee vissies; solank jy aanhou om dit uit te deel, word dit meer."

Ek bel Ronell ná afloop van die maand. "Daar is nog soveel waarvan ons ontslae kan raak," babbel ons albei oor die foon. Ek stel voor dat ek na haar huis kom om te beraadslaag. Ek sal vir ons sjokoladekoekies in haar oond maak en ons kan nog 'n marathon beplan. "Nee, jy kan nie," antwoord sy. "Ek het my bakplate weggegee."

Later lees ek in The Telegraph van die Brit Mark Boyle wat letterlik al sy besittings weggee het. Buiten die klere aan sy lyf. Álles.

Een van die moeilikste weggees was glo sy iPod met al sy musiek op "Maar nou beskou ek die voëls in die bome as my iPod," sê hy.

Verbeel jou dit. Die voëls in die bome is jou iPod. Ek ken Boyle van geen kant af nie, maar ek is seker hy voel ryk.

Johannes de Villiers is 'n skrywer, joernalis en tans 'n dosent aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy blog kan gelees word by johannesbertusdevilliers.co.za.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.