Kontak gerus Dr. Abel Pienaar, direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, by
Ons glo aan privaatheid en belowe om nooit jou kontak besonderhede met ander deel nie.
Ons nooi alle lesers om hulle belewenis en opinie deur te gee aan SES of direk aan ons skrywers. Onderaan die artikels verskyn gewoonlik die skrywer se e-pos adres.
Ons stel belang in jou kommentaar en reaksie op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Ons sal elke maand uittreksels publiseer – of volledige artikels.
Indien jy verkies om 'n skuilnaam te gebruik, verskaf asb. ook aan ons jou regte naam en kontak-besonderhede. Dit sal nie aan ander bekend gemaak word nie, maar SES kan nie briewe sonder daardie inligting publiseer nie. Maak asb. aan ons duidelik hoe jy dit verkies.
Stuur briewe en bydraes aan Dr. Abel Pienaar by
Ek verwys na die volgende teks: "Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is." Kol 2:3. As AL die skatte van wysheid in Christus is, en as AL die skatte van kennis in Chrístus verborge is, hoekom moet ons dan enigsins kennis neem van wat die sogenaamde soekers soos Abel Pienaar e.a. dwaalleraars?
-In Christus
Hallo Abel,
Ek geniet julle website baie en verslind al die artikels. Dis baie lekker om in Afrikaans oor al die dinge te praat, want op die stadium het ek nie 'n enkele mede-afrikaner met wie ek oor die dinge kan praat nie. Ek dink meestal soos jy oor God en die skepping ensovoorts, maar een ding wat ek nog mee sukkel is om die donker kant te verstaan, hoe om nuut daaroor te dink. Ek sien nie meer die duiwel onder die aarde in die hel met sy bokkop, horings, stert en drietandvurk nie, maar daar is nog te veel donker, lelike energie op aarde wat nie vir my weg verklaar kan word met alles is God en God is in alles nie. Wat van al die moordenaars, verkragters, ateïste, pa's wat hul dogtertjies jaar in en jaar uit verkrag en molesteer, hierdie mense se siele is mos donker, wat van al die demone waarvan almal altyd praat, is daar sulke goed, en spoke wat nie tot rus kom nie. Waar pas al die donker goed in en hoe moet mens daaroor dink??? Ek glo in reïnkarnasie en dat mens aarde toe kom om sekere goed te doen en te leer, maar wat is die sin van al die lyding, die blootstelling aan donker goed. Hoe kom mens ooit oor al die trauma en lei 'n sinvolle lewe daarna? As God dan net liefde is, hoekom doen ons as siele hierdie lelike goed aan mekaar op aarde???
T
"We see a world where all people have discovered their individual calling – their Soul's Intention – and are living, working, playing, and loving in alignment with it."
Marietjie
Abel,
Jou skisofreniese uitlating teenoor kreasionistiese denke het 'n herrie hier in ons geselsgroep veroorsaak.
EM
Ek is op 66 jarige ouderdom in die baie gelukkige posisie om los te wees van enige formele kerk of godsdiens oortuiging. My uitgangspunt deesdae is: "Ek gee nie om wat enige iemand glo/nie glo nie, maar wys vir my die lewe wat jy lei en ek kan besluit of ek 'n pad saam met jou kan loop." Met die lees van sommige briewe wat aan SES geskryf is het dit my weereens opgeval dat dit die "christene" is wat sulke bitsige en persoonlike briewe skryf. Soos maar die geval is met hulle, is slegs hul denke korrek en dan val hulle mense persoonlik aan wat dit waag om hul eie siening oor dinge te hê. Hoekom nie eerder in 'n intelligente tweegesprek betrokke raak en respek toon vir mekaar se idees nie? Seker omdat die meeste van hulle geen idee het van die ontstaan en oorsprong van die christen geloof nie.
E. B
Dankie vir die ongelooflike skatkamer van inligting!
PP
Dr. Abel, ek geniet jou skryfwerk baie, jy weet nie wat jou blog al vir my en my omgee groepie beteken het nie. Ons bespreek nou elke week wat jy daar skrywe en ons gebruik vrylik van SES se kwaliteit artikels. Dankie!
EL
SNERT, snert, snert, snert! Hiervoor gaan julle nog brand ... en veral jy dr Pienaar! Jou straf gaan veel swaarder wees!!!!!!! SNERT!
Anoniem
Ek is bly dat Prof. Adrio König jou so aanvat in die koerante! Hoekom is jy so stil? Lyk my as dit kom by jou gelykes in die akademie dan weet jy nie wat om te sê nie!! Ek stem 100% saam met die prof. – hou op soek na God, maak jou Bybel oop en lees daar van hom!
Dr. E van Niekerk
Die God van die Bybel bestaan nie meer vir Abel Pienaar nie, die Bybel self is nie meer God se onfeilbare Woord nie maar tog, verbasend, praat hy tóg van "God". Pienaar en sy medestanders (prof. Willie Esterhuyse, Sakkie Spangenberg en Hansie Womarans) is inderdaad verstrengel in hulle eie dwaashede, en het die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle is verduister in hulle verstand, en "Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander..." (Rom 1:22, 23).
G.A
Waarom is daar iets soos 'n Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit nodig? Die oomblik as iemand begin praat van "Eietyds", weet ek hulle is die Bybelse Geestelikheid kwyt! Weet niemand in die NG Kerk dan waarmee die belhamels van die sg. "Sentrum" hulle besig hou nie? Word asseblief wakker!
Dr. G
Ek was bly om die lewendige gemeenskap van spiritualiteit te ontdek. My worsteling met Afrikaner-wees en die kerk is verby. Ek werk al vir jare in gemeenskapsontwikkeling m.a.w. met diegene wat uitgesluit was/is van materiële en kennis oorvloed. Dit was my blootstellling aan dualiteit. Om met dualiteite te werk het my tegniek geword om weer kontak te maak met my Hoër Self en Ek is Wat Ek Is. Ek het 'consciousness' bestudeer om te begryp waarom ons so van mekaar verskil en so dieselfde is.
Mathilda
Die artikel van Dr. Sandra Ferreira het dadelik my oog gevang. Ek het lankal 'n kleintjie dood aan die Westerse wêreld se klem op groei en meer spesifiek, ekonomiese groei. Dit word, soos Dr. Ferreira tereg aandui, as die medisyne wat alle "verkoues" gesond maak voorgehou. Die feit dat die natuur slegs as hulpbron beskou word en ontken word dat die mens 'n integrale deel daarvan is, veroorsaak dat "die hulpbron" sy ereplek in ons siening van die werklikheid verloor.
Die meeste christelike kerke plaas ook die mens op 'n troontjie, verhewe bo die res van "die skepping". Die aarde word gesien as van verbygaande aard en gevolglik nie van soveel belang nie. Baie mense wat onvergenoegd is met hulle wêreldse bestaan gryp ook na die uitkoms wat die belofte van 'n hemelse bestaan hulle bied. Ek stem ook saam dat daar 'n groot verskil is tussen godsdienstig en spiritueel wees. Die meeste godsdienstige mense is spiritueel dood en bloot godsdienstig omdat dit of sosiaal aanvaarbaar is of hulle vrees vir die oordeel deur 'n wraaksugtige god besweer. In die moderne tyd met sy kitsoplossings vir alle probleme word van spirituele leiers verwag om ook met sulke kitsoplossings vir spirituele vrae vorendag kom. Dit is verseker 'n spirituele krisis wat die moderne mens in die gesig staar. Die verband tussen hierdie omgewingskrisis en die spirituele krisis en die moontlikheid wat dit bied om maatskaplike probleme op te los is baie interresant.
Om dit egter reg te kry sal die "glo" groep na die "weet" groep omgeskakel moet word en soos Dr. Ferreira tereg opmerk: "As jy iets weet, het jy nie 'n behoefte om dit te verdedig of om andere te bekeer nie. Jy is gelukkig om te deel en het vrede in jou hart en het geen kompulsie dat andere met jou moet saamstem nie."
Die "weet" groep gaan gevolglik maar hel vreet om die "glo" groep te laat "weet" want "glo sonder weet lei daartoe dat mense wil verdedig, veg en andere bekeer".
Louis v Z
Ek woon in Glendale, California, en geniet dit wat ek sien op Afrikaanse webwerwe soos SES. Ek is baie beïndruk met die vlak van debat en temas wat bespreek word. Ek is gereeld in gesprek met mense wat nie Afrikaans magtig is nie, en voel dan altyd jammer dat die webwerf van SES totaal ontoeganklik is vir sulke mense. Dis 'n groot skade! Ek pleit vir meer Engelse materiaal. Ek probeer nie 'n punt maak oor die voortbestaan van Afrikaans nie, al wat ek vra is meer toeganglikheid vir mense wat nie "die taal" magtig is nie. En julle het beslis iets om te deel met ander! Dalk sal dit al help om 'n opsomming van die artikels in Engels te plaas. Ek kan gelukkig Afrikaans lees, skryf, praat, dink en droom! Groete
Rudolph van Graan, Boerseun in LA
Ek sou sê as ons Spirituele evolusie wil omarm dan loop ons die gevaar om weg te beweeg van die Christelike geloof. Al wat SES dus bied is om onder die vaandel van 'eietyds' ons heeltemal weg te lei van die Ware God.
Jesuskind
Beste Abel,
Ek is bly dat ek jul webwerf ontdek het. Soveel jare al lees ek wyd, soekend na 'n manier om my behoefte te vul, 'n behoefte na 'n beter begrip van God en 'n opregte, persoonlike geestelike ervaring wat vir my sinvol is. Ek is op die oomblik besig om Kabbalah te ondersoek.
BvdM
Omdat ek nog redelik nuut is op hierdie "waag-dit-om-te-twyfel" journey van my lewe, sukkel ek om woorde te kry om te beskryf wat ek ervaar. Ek voel dit, weet dit, leef dit, maar het nog nie die "tools" om dit te beskryf nie. Koos Kombuis se artikel hierdie maand een van die beste beskrywings is van hierdie journey wat ek nog teëgekom het – ek gaan sy artikel oor en oor lees. Veral die heel beste en mooiste paragraaf wat sê: 'n Mens kan God eers vind nadat jy alle pogings om hom te vind, opgegee het. En wanneer jy hom eindelik vind, is hy nie daar nie. Al waarvan jy dan bewus is, 'n vrede wat alle verstand te bowe gaan, 'n eindelose berusting, 'n innerlike versoening en 'n matelose gevoel van vervulling en tevredenheid. Hoor, hoor, vrinne!
Johan
Beste Abel
Ek het toevallig op hierdie webblad afgekom. Ek is 'n 60 jarige vrou wat jare lank reeds 'n worsteling met die kerk ervaar. Dit het altyd gevoel of ek die enigste mens op die planeet is wat teen die tradisionele dogma en veral die farisisme en vooroordeel van die tradisionele kerke skop. Nou lees ek soveel mense raak wat dieselfde vrae het.
Ek woon deesdae op 'n plattelandse dorp wat mens seker as ortodoks kan beskou. Veral hier bly jy maar tjoepstil, gaan sit in die kerk om nie vir jouself probleme te maak nie. Daarvan het ek reeds genoeg omdat ek weier om die beskikbare bybelstudies by te woon. Baie dankie vir julle artikels wat ek gereeld met groeiende belangstelling en 'n besef van openbaring lees.
Soekende
"The religion of the future will be a cosmic religion. It should transcend personal God and avoid dogma and theology. Covering both the natural and the spiritual, it should be based on a religious sense arising from the experience of all things natural and spiritual as a meaningful unity. Buddhism answers this description. If there is any religion that could cope with modern scientific needs it would be Buddhism." – Albert Einstein.
Bruce
Diegene wat so teen die dogma van die kerk gekant is, doen dit omdat die Bybel nie meer vir hulle God se gesagvolle Woord is nie. As iemand soos dr. Pienaar en die ondersteuners van SES dit verwerp of daaraan twyfel, is hulle nie Christene nie! Om 'n ortodokse Christen te wees, is om die gesag van die Bybel en die kernwaarhede daarin vervat sonder twyfel te bely en te verkondig. Dr. Pienaar se humanistiese postmoderne idees lei ongelukkig na net een ding en dit is ongeloof.
Nico Greyling van Polokwane
Ek is verslaaf aan julle webblad. Ek het klaar al die maand se artikels gelees en kannie wag vir die volgende maand nie. Ek is baie beïndruk met die gehalte van die artikels, die openlikheid, die eerlikheid en die ruimte vir andersdenkendes.
A.K.
Kom loer in by die Filosofiekafee, SES se gesprekke word by ons ook gevoer, Vrydag: 23 Julie 2010 vanaf 19:30 "Wetenskaplike kennis en geloofskennis: konflik of versoening?" – Prof Anton van Niekerk. Die gesprek sal handel oor die vraag of die soort kennis wat in geloofsbelydenisse of geloofsaansprake gemaak word, versoenbaar is met die kennisaansprake van die moderne eksperimentele wetenskappe.
Ek het deur van die artikels gelees. Dit lyk my julle is baie mooi op pad en daar is duidelik 'n behoefte ... soos ons almal weet. Ek dink dit is brawe en baie nodige pionierswerk. Mag die rivier 'n Grand Canion word!
SLR
Hi Abel, net vir interessantheid ... Ek het 'n advertensie vir 'n dvd gesien – Oh my God deur Peter Rodger – dieselfde konsep as wat Saam op soek na God is, net op 'n globale skaal. Kan net interessant wees om te sien wat mense regoor die wêreld oor God dink.
Elza Botha
Dis ongelooflik om te sien hoe daar al meer oor hierdie dinge gepraat word. Baie jare kon ek nêrens inligting kry oor al die dinge nie, ek moes maar tevrede wees met skelm skelm boeke lees! Nou die wonderlike bevryding toe ek hierdie webtuiste ontdek. Dankie vir julle puik webtuiste!! Op die 2-3 September 2010 word daar 'n seminaar aangebied: Homo Transcendentalis?: Transcendence in Science and Religion. Interdiciplinary Perspectives. Dit klink vir my baie na dieselfde dinge as waarmee julle by SES besig is. Ek dink dit word deur UNISA aangebied, maar meer inligting kan seker by die e-pos gevind word.
Nog skelm-skelm
Geagte dr Pienaar,
Dankie vir jou brawe stap! In die artikel in Beeld op 8 Mei "Ons Almal se God", het ek vir die eerste keer gelees van Afrikaners wat ook verder dink en nie net vasgevang sit in die ou kerklike dogmas nie ... Ek het dadelik jou boek gaan koop en kan nie vir jou sê wat dit alles vir my beteken het nie. Ek het nou al twee kopieë weggegee en het vandag vir myself weer een gaan koop. Jy besef (heelwaarskynlik nie!) watter groot hulp jou boek en SES is vir soekende mense daarbuite nie! En glo my daar is baie!
Die artikels is puik en goed geskrywe, baie dankie en hou so aan.
Dalene van Pretoria
Geagte dr. Pienaar
Deur 'n vriend wat 'n beriggie in Beeld gelees het, het ek nou hierdie webblad ontdek, die eerste van sy soort in my moedertaal! Hier in Rustenburg woon ek op 'n eiland, hoewel ek 'n paar vriende het wat in verskillende stadiums van ontwaking is, is ek maar eensaam in my soeke. Die artikels is briljant!!!! Ek kan nie wag vir volgende maand se artikels nie, daar is nie dalk 'n kans dat u meer as vier artikels kan plaas nie? Ek drink dit in soos "lewenswater"...
Pieter vdm
Geagte Abel,
Hierdie nota is net om u oor nog 'n ondersoekende gespreksgroep wat bestaan in te lig. Ek het die artikel gelees en verstaan waar u vandaan kom. U het seker al gehoor van die "Seekers". Ons is 'n groep wat by die Hervormde Kerk Wapadrand onstaan het omdat daar 'n behoefte onder baie van die kerk se mense is om antwoorde op kritiese vrae te kry. Baie het nie meer kerk toe gekom nie maar het 'n groot behoefte aan 'n omgewing waar vrae om Spiritualiteit bespreek kan word. Ons vergader tans so eenmaal in 2 maande en prof. Andries van Aarde is die gesprekleier. Die aspekte in die artikel in By se strekking is baie naby aan die onderwerpe wat ons behandel. Dit is oop vir almal en daar is selfs 'n paar predikante van die NG Kerk wat dit bywoon. Een kom gereeld van Potgietersrus af en twee van Randse gemeentes.
Johan Wessels
Selfoon: 082 806 3642 of
Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Boek: Diaspora van die nuwe Christene deur Dr. Flip Schutte (2009). Hy skryf oor die geloof van 'n nuwe geslag Christene: Wie is God / die Goddelike vir hulle? Wat verstaan hulle onder "God se Woord"? Hoe beleef hulle dit om, soos die Jode buite die landsgrense van Israel, as 't ware in die diaspora te lewe – buite tradisionele geloofsgrense? Hy skryf aangrypend oor die aard en oorsake van die postmoderne spiritualiteit. R155. Beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars asook direk van Griffel.

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Soeke na 'n eietydse spiritualiteit. Sprekers: Prof. Kobus Krüger, Prof. Sakkie Spangenberg, Dr. Abel Pienaar, Dr. Gerrit Genis, Dr. Piet Muller e.a. Klik hier om 'n voorskou te sien. Prys R130 (SES lede R100) plus posgelde. Bestel by .

Boek: Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.
Kopiéreg © spiritualiteit.co.za