
SES ONTBYT, 25 Februarie 2012 om 8:00 tot 11:00. Pretoria, Groenkloofkampus Kafeteria (Cobi sal met bespreking 'n kaart voorsien). Die oggend se doel is om saam met mede vrydenkers binne 'n veilige ruimte te kuier, waar daar eerlik en oop gesels kan word oor geloof, godsdiens, wetenskap, filosofie en 'n eietydse spiritualiteit. Ons gaan saam met Prof. Ferdinand Potgieter (Kinderspiritualiteit) en Dr. Flip Schutte (Spiritualiteit) dieper kyk na lewensin in die hier en nou. Ons het tafelleiers wat help met gesprek en begeleiding. Bespreek by Cobi Kruger jou plek. R60 pp, sluit in ontbyt en koffie. (Indien vegetaries, gee dit asb. met bespreking deur aan Cobi.) E-pos of 0825501066. Doen bespreking asb. vinnig, om teleurstelling te voorkom, want daar is beperkte plek en dis gewoonlik vinnig vol bespreek!

Vrydagaand 28 Oktober 2011 was SES se jaar-eind Dinee. Dit was ook die aand wat SES sy nuwe VOORDENKER aangewys het. Die geleentheid is gehou by 'n gastehuis en konferensiesentrum in Murrayfield, Pretoria. Daar was nie plek vir 'n muis nie. Prof. Kobus Krüger (SES se Voordenker van 2011) het die geleentheid begin met 'n aanbieding oor mistiek en Angus Taylor (kunstenaar, beeldhouer) het gepraat oor kuns en spiritualiteit en SES se 2012 Voordenker: Prof. Wilhelm Jordaan het na die ontvangs van die Voordenker-beeld gepraat oor die vermoë van 'n vrydenker om verdraagsaam en oop te wees in die proses van soeke.
Prof. Wilhelm Jordaan en sy vrou Jackie het die volgende skrywe gestuur in reaksie op die aand en sy aanwysing en toekening as SES se Voordenker 2012:
"Allereers baie dankie aan SES dat julle gereken het ek verdien dit om SES se voordenker vir 2012 te wees. Die simboolryke beeld het gewig; dra gewig en is daarom 'n aansporing om oop en vry te bly dink én om voortdurend 'n heilige onrus te hê oor hoe en wat jy dink.
Ek het vanaand (28 Oktober 2011) die poësie van mistiek gehoor terwyl Kobus Krüger gepraat het. En terwyl Angus Taylor oor sy kunstenaarskap gepraat het, is ek daaraan herinner hoe die engel uit die klip los kom; hoe die geestelike en die materiële verband hou – in die vervlegtheid van alles wat is. Want:
onverwante dinge is verwant
in die hologram van God
mens buffel ametis
arend roos koelakant"

Die MONOLOOG vir DIALOOG wat op 19 Augustus 2011 in die Wes-Kaap aangebied is was vinnig uitverkoop en die aand self was 'n hoogtepunt. Een van die mense wat die aand bygewoon het, het die volgende gesê: "Ek het lanklaas iets bygewoon waar soveel eerlikheid, oop gesprek en vryedenke ten toon gestel is. Ek is vanaand geïnspireer om self uit te gaan en as vrydenker my stem te laat hoor! ... Abel Pienaar is die stem vir 'n nuwe generasie denker..."
SES wil dankie sê aan Rita en Juanita van Diemersdal Wyn Landgoed (Durbanville Vallei), Bertus van Niekerk (Renaissance Kaap, geestelike leier) en Cobi Kruger se harde werk agter die skerms.
Indien iemand wil hê dat dr. Abel Pienaar sy Monoloog vir Dialoog moet kom aanbied in sy of haar omgewing, kontak gerus vir Cobi Kruger by
Gaan loer op Youtube onder Abel Pienaar, Vrydenkers 1, Vrydenkers 2, Vrydenkers 3, Vrydenkers 4, Vrydenkers 5 en Vrydenkers 6, vir gedeeltes uit die Pretoria aanbieding.
Die Abel Pienaar Projek is begin met die doel om vrydenkers te identifiseer en aan mekaar bekend te stel. Hieruit ontstaan die eenman aanbieding van Dr. Abel Pienaar, Monoloog vir Dialoog. Dit is 'n aanbieding wat handel oor die eerlike soeke na 'n eietydse spiritualiteit. Dit sit die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit se waardes op die tafel. Met humor en eerlikheid word daar na geloof en bygeloof gekyk. Abel wys dat wetenskap en godsdiens met mekaar in gesprek moet tree. Monoloog vir Dialoog se doel is om vrydenkers te mobiliseer tot 'n oop gesprek – Monoloog vir die skep van oop, eerlike en soekende Dialoog. Hierdie aanbieding is reeds suksesvol by 2011 se KKNK en uitverkoopte vertonings in Pretoria aangebied.
Die doel met ons dagkonferensies, koffie gesprek en retreat is om mense wat behoefte het aan 'n eietydse spiritualiteit te bemagtig om die huidige filosofiese, wetenskaplike, godsdienstige en wêreldkontekste sinvol te help integreer in hulle verstaan van die lewe en die transendente. Om logos (rede) en mythos (simboliese) met mekaar in gesprek te laat tree.
Die eerste SES ontbyt wat op Saterdag oggend 26 Februarie 2011 plaasgevind het, was 'n reuse sukses. Die 80 sitplekke in die Eat@UP restaurant in die Ou Landbougebou van die Universiteit van Pretoria was vol gepak. Die oggend se doel was om saam te gesels met mede vrydenkers en 'n veilige ruimte te skep waar daar eerlik en oop oor geloof, godsdiens, wetenskap, filosofie en 'n eietydse spiritualiteit gesels kon word.
Prof. Kobus Krüger het die verrigtinge geopen met 'n kort voorbereiding en meditasie. Willie Potgieter het die ontbyt en gesprek geleentheid ingelei met verwysing na die metodiek van sinvolle oop dialoog. Hy haal vir Mirjam Vissers aan: "In dialoog is daar nie verloorders nie – gewone mense sit in klein groepies (tussen 6 en 8 persone) en praat met mekaar in gewone taal oor iets wat ongewoon belangrik is vir almal. Eerder as sekerhede (want dan is daar mos nou niks meer oor te sê nie) deel mense hulle vrae met mekaar. Die antwoorde wat gegee word is voorlopig en versigtig en almal weet dat jou standpunt netnou en môre anders mag wees ... Dit beteken dus dat gespreksgenote moeite doen om mekaar te verstaan – sodat ek kan begryp waarom (en hoekom en hoe intens) dit vir my gespreksgenoot gaan. Hierdie soort luister beteken baie keer dat ek iets leer van myself, dat ek nuwe vrae en insigte in myself ontdek."
Hierna is daar in groepe saam gesels en saam gekuier rondom ontbyt. Terugvoer is later gegee aan die groter groep deur tafel fasiliteerders. 'n Voorbeeld van 'n paar sake wat na vore gekom het is:
Die een ding waaroor almal wel eens was, was dat daar spoedig weer so 'n geleentheid gereël moet word.
SES wil 'n werkswinkel aanbied in 2011 wat ouers kan help om oor sekere belangrike onderwerpe self met hulle kinders te gesels. Die doel van hierdie werkswinkel sal wees om ouers te begelei om:
Sodra ons 'n datum en lokaal het, sal ons verdere besonderhede verskaf. Ons hoop om uiteindelik hieruit ook 'n handleiding op te stel wat ouers kan help om oor belangrike sake met hulle kinders te gesels. Indien jy belangstel om deel van hierdie tienerprojek te wees, skakel Izak by 0723170876 of e-pos:
Jaarliks word daar drie dagkonferensies aangebied – Pretoria, Johannesburg en in die Kaap.
In samewerking met Nuwe Hervorming Netwerk en Renaissance
Die VOORDENKER-toekenning is op 23 Oktober 2010 toegeken aan Prof. Kobus Krüger. Die kunstenaar Angus Taylor het vir SES (Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit) die VOORDENKER-toekenning ontwerp, gemaak en geskenk.
Dr. Abel Pienaar, die direkteur van SES sê dat Prof. Kobus Krüger deur sy toewyding, skrywes en opofferings vir vele mense 'n rigtingwyser geword het die afgelope dertig jaar. Baie moderne denkers in Suid-Afrika vandag, verwys na Prof. Krüger as een van die groot stemme van ons tyd, daarom is hy die waardige ontvanger van die toekenning.
SES vereer elke jaar iemand wat die soeke na 'n eietydse verstaan van sin en spiritualiteit verpersoonlik. Iemand wat 'n oop, eerlike en respekvolle verhouding tussen geloof, wetenskap en ons wêreld waarin ons leef, bevorder.
"Dit is hartseer dat ons in ons tyd sien dat die kerk begin agterbly in sy denke en verstaan van die werklikheid waarin ons lewe. Dit is ook hartseer dat die kerk vashou aan 'n voorwetenskaplike wêreldbeeld en dit krampagtig probeer verdedig." So sê Dr. Abel Pienaar, die direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (SES).
Dr. Pienaar voel sterk daaroor dat die tyd reg is vir gelowiges, ongelowiges, sekeres en onsekers om die nuwe kennis en ontdekkings wat deur die wetenskap en tegnologie beskikbaar gestel word, te gebruik en om in hul geloofsraamwerk te integreer. Die integrasie van hierdie nuwe inligting kan godsdiensleiers in staat stel om hul volgelinge te begelei tot 'n beter bewuswording van hul globale bewussyn en 'n beter verstaan van hul werklikheid.
"Ons kan tog lankal nie meer die geloofstaal gebruik wat mense in 'n voor-wetenskaplike wêreld gebruik het nie", sê hy en gaan voort met: "Ons interpreteer tog vandag die lewe en die goddelike anders as byvoorbeeld in Bybelse tye. Met die gebruik van mikroskope, teleskope, rekenaars, kameras en die ewigdurende groeiende netwerk van kennis word ons al meer bewus van die grootsheid van die goddelike. Ons kan eenvoudig nie anders as om nuut oor God te begin dink nie. Die antieke metafore van konings en koninkryke is eenvoudig te klein vir die nuwe wêreld wat die tegnologie moontlik maak."
Die Sentrum (SES) wat in November 2009 sy ontstaan gehad het na 'n dagkonferensie wat in Pretoria aangebied is, se visie is om veral die Afrikaans sprekendes te help soek na nuwe vorme van spiritualiteit in 'n eietydse geloofsbelewing. "Dit gaan vir ons daarom om 'n oop, eerlike en respekvolle verhouding (dialoog) op te bou tussen geloof, wetenskap en ons wêreld waarin ons leef." vertel Prof. Hansie Wolmarans, een van die stigterslede van SES. Dr. Pienaar sluit by hom aan as hy sê: "Ons het 'n ruimte geskep waar mense ontmoet en met waarheid omgaan op 'n eerlike en oop wyse. Waar ons saam na die goddelike kan soek, logos (rede, wetenskap) en mythos (simbole, metafore, mites, kuns, musiek), in die hier en nou! En waar die soeke, wetenskaplike waarheid onderskrywe, sowel as verstaan van die taal wat mythos praat."
Op 23 Oktober word SES se jaarlikse Dagkonferensie gehou, die tema hierdie jaar is "Soeke na 'n eietydse verstaan van God". Saam met Pienaar en Wolmarans is daar nog nege ander sprekers wat die dag optree. Een van hierdie sprekers vir die dag is Dr. Piet Muller, 'n toekomskundige wat reeds reg oor die wêreld lesings aangebied het oor onderwerpe waarby spiritualiteit, toekomskunde en kreatiwiteit betrek is.
Dr. Muller se aanbieding vertel van die groot uitdagings waarvoor die 21ste eeuse mense staan. "Godsdiens en spiritualiteit se grootste uitdaging sal wees om 'n etiek te ontwikkel waarmee die nuwe tegnologie veilig bestuur en gebruik kan word. Dit sal enorme druk plaas op tradisionele beskouinge oor etiek en moraliteit en 'n ingrypende verandering noodsaak oor hoe ons oor God praat en dink. 'n Mens moet ook onthou dat God 'n Groot Misterie is en dat 'n mens gevolglik slegs in metafore oor God kan praat.
Die geskiedenis van die godsbegrip toon aan dat hierdie metafore altyd hand aan hand loop met die heersende wetenskap en kosmologie. Wanneer godsbegrip en tegnologie nie langer sinkroniseer nie, verloor die godsbegrip sy morele gesag. Dit is wat sedert die Nywerheidsrevolusie gebeur het, toe die godsbegrip nie langer probleme, soos die plundering van die aarde se hulpbronne en die ekologiese besoedeling wat daarmee saamgaan, kon hanteer nie.
Die uitdagings van die 21ste eeu, waarmee ons reeds begin worstel het, eis van ons dat ons godsbeeld en die metafore waarmee ons God beskryf, aan die volgende voorwaardes moet voldoen:
Prof. Hansie Wolmarans se aanbieding oor sekulêre spiritualiteit verduidelik verder dat sedert die sewende eeu v.C. daar reeds 'n nuwe manier ontwikkel het om dinge te verklaar. "Ons kan dit wetenskaplike diskoers noem (logos). Die werklikheid is in terme van sigself verklaar. Anaximander, byvoorbeeld, het toé al gesê dat mense uit visse ontwikkel het. Ons sit vandag met die probleem dat baie mense die Bybel as logos lees, dit wil sê, as letterlik waar. Die Bybelse wêreldbeeld is in teologiese terme vertaal. Vandag steeds verkondig Afrikaanse kerke dinge soos:
Hierdie uitsprake word as "ortodoks" verkondig, omdat die Bybel as logos en nie as mythos verstaan word nie. Moderne wetenskaplike ondersoek het aangetoon dat die bestaan van só 'n persoonlike godheid wat teen die natuurwette inmeng en die geskiedenis vooruit bepaal, 'n afgod is. 'n Nuwe spiritualiteit is dus besig om te ontwikkel waar God nie meer as 'n persoon voorgestel word nie, maar as die grond van die synde.
"Die God wat ek ken, is 'n moderne God. Dit is 'n vrye God, 'n demokratiese God. Dit is die God van die mense van vandag. Dit is ook 'n verborge God, 'n God sonder naam. Dis die God wat, toe die eerste mens hom om sy korrekte aanspreekvorm gevra het, nie geweet het wat om te sê nie, maar slegs kon antwoord: "Ek is wat ek is." So skryf een van SES se gepubliseerdes, Koos Kombuis. En saam vele ander word SES 'n nuwe stem in die debat rondom 'n nuwe verstaan van God.
SES is 'n spirituele tuiste vir mense wat hulle met vrye en oop denke identifiseer. Die Nuwe Hervormings Netwerk en Renaissance gemeentes staan in assosiasie met SES en saam poog hierdie verskillende groepe om die eerlike soeke na 'n eietydse verstaan van God en die werklikheid aan te moedig.
In samewerking met Nuwe Hervorming Netwerk en Renaissance
Die dagkonferensie was 'n groot sukses! SES het nou hopelike 'n vaste afspraak met die Kapenaars gemaak om elke jaar in April te kom kuier. Dr. Abel Pienaar se boek is ook by die geleentheid bekendgestel, Saam op soek na God, Soeke na 'n eietydse spiritualiteit (Griffel uitgewers). Die dag se aanbiedings en gesprekke wat daarop gevolg het is op video vasgevang en sal binnekort hier beskikbaar wees.
Jean Oosthuizen, joernalis en stigter van Kletskerk, skrywe die volgende oor die Dagkonferensie van SES op 17 April 2010:
"Genesis en Eksodus verteenwoordig nie geskiedskrywing of openbaringsgeskiedenis in die tradisionele sin van die woord nie. Dit verteenwoordig singewende mites met 'n retrospektiewe teologie. So het die filosoof prof. Willie Esterhuyse tydens 'n dagkonferensie van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit gesê.
Esterhuyse sê die Bybel is nie 'n geopenbaarde waarheid van bo nie en die teks in sigself is ook nie heilig nie. Skrifgedeeltes soos Genesis 1 tot 11 is sinskeppende stories. "Al is daar historiese elemente in die teks teenwoordig het die teks self niks te doen met die historiese nie."
Skrifgedeeltes soos Genesis 1 tot 11 moet volgens hom gelees word met kennisname van die oer-oer stories wat dit voorafgaan. Prof. Esterhuyse verwys na die konteks van Genesis as "amfiteater" van die oneindige of onsienlike. "In die amfiteater vertolk die stories wat vertel word, ineen geskakelde bedrywe rondom sentrale oer-temas. "Dit gaan, met baie variasies, oor die belewing en verstaan van die verhoudinge tussen die goddelike, die mens en die wêreld," het prof. Esterhuyse gesê.
"Baie mense is kerklos en kerkloos maar dit beteken nie hulle is geloofloos nie."
Die direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, dr. Abel Pienaar, het gepraat oor evolusie van spiritualiteit. Dr. Pienaar se boek Saam op soek na God, wat deur Griffel Media uitgegee word, is tydens die geleentheid bekend gestel. Hy sê evolusie is oral teenwoordig, nie net in die materiële wêreld nie.
"Daarom kan ons ook die evolusie van idees, waarheid en geloof verstaan. Soos Thomas Kuhn ons help met die verstaan van paradigmas en dat paradigmas verander oor tyd. 'Scientific theories undergo wholesale revision with each generation and therefore do not converge on the truth'."
Dr. Pienaar glo evolusie van spiritualiteit impliseer 'n eietydse spiritualiteit waarvoor daar 'n nuwe model van dink en oopwees nodig is.
Hy sê 'n eietydse spiritualiteit bied 'n veilige ruimte waar mense mekaar nie probeer oortuig nie maar waar hulle eerder saam soek. "Dit is 'n ruimte waar mense op 'n eerlike en oop wyse saam na die goddelike kan soek." Logos (rede, wetenskap) sowel as en mythos (simbole, mites, kuns, musiek) speel volgens dr. Pienaar 'n ewe belangrike rol in hierdie soeke.
Hy bepleit 'n nuwe model van dink, oopwees, integreer van ou verstaan en nuwe verstaan en die raaksien van verskeie vlakke van bewussyn. Die integrale model van kyk na die holistiese raakpunte en waar daar beïnvloeding is op mekaar se sogenaamde waarheid.
Meditasie Donderdagaande om 18:45 vir 19:00. Kandelaarstraat 292, La Montagne. Prof. Kobus Krüger begelei die geleenthede. Almal welkom! Kontak Willie Potgieter vir inligting en pad aanwysings,
Elke Vrydagoggend 10:30-11:40 word daar saam gemediteer. Dr. Piet Muller begelei die sessies. Mapellaan 19/20, naby Loftus. Kontak Dr. Piet by

As jy op Facebook is, asb. ondersteun die Abel Pienaar Projek deur 'n vriend te word.
Die afgelope tyd is Abel deur joernaliste, teoloë en vele gelowiges aangeval en uitgekryt as onrealisties en uit voeling met realiteit. Hulle sê Afrikaanse mense is christene en sy sogenaamde soeke is net vir 'n klein akademiese groepie bedoel. Abel stem nie saam nie.
Die doel met die Abel Pienaar Projek is: (1) Om te wys daar is reeds baie Afrikaans-sprekendes wat nuut dink, (2) om momentum te gee aan die beweging deur mense wat bang is om openlik te praat oor hulle twyfel en soeke, te motiveer met die wat reeds mede-soekers is – ons soek getalle! en (3) om 'n sentrale ruimte te skep waar relevante inligting vinnig deurgegee kan word.
"Ek glo regtig dat daar baie mense is wat nuwe inligting oor die kosmos, aarde en lewe wil integreer met die sienings wat hulle kry by hulle wêreldbeeld, hulle kultuur konteks, verskillende filosofieë, wetenskap, die Christelike godsdiens en ander godsdienste. Kom ons kyk of ek reg is!" sê Abel.
Word deel van hierdie groep vrydenkers. "Like" ook die eenman vertoning toer van Abel: Monoloog vir Dialoog.
Kopiéreg © spiritualiteit.co.za