Nuwe hervorming, nuwe humanisme, nuwe spiritualiteit

Deur Prof. Sakkie Spangenberg op 1 April 2010

"These movements [progressive spirituality movements] have emerged as a response to four different perceived needs – the need for a credible religion for a modern age; the need for religion which is truly liberating and beneficial for women; the need to reconnect religion with scientific knowledge; and the need for a spirituality that can respond to the impending ecological crisis." – Gordon Lynch

Sowat agt jaar gelede het 'n toekomskundige en vier Bybelwetenskaplikes besluit om Suid-Afrikaners bekend te stel aan gesprekke oor 'n nuwe hervorming binne die Christendom. Die idee "nuwe hervorming" was eintlik nie totaal nuut nie. Daar was reeds mense in Brittanje, Nieu-Seeland, Australië en die VSA wat hieroor besin en gesprekke gevoer het. Sommiges voer die idee terug na biskop John A.T. Robinson van Brittanje wat in 1965 'n boekie met die titel The New Reformation? die lig laat sien het. Dit was bedoel as 'n opvolg van sy boek Honest to God (1963) wat soveel beroeringe in Brittanje veroorsaak het.

Verskeie Afrikaanssprekende teoloë het heftig reageer op die idee en die sienings wat die "nuwe hervormers" verkondig het. Onder hulle is, Jaap Durand, Adrio König en Amie van Wyk. Al drie is Suid-Afrikaanse dogmatici, of dan teoloë wat die tradisionele Christelike leerstellings aan voornemende predikante onderrig en dit ook in hul geskrifte verdedig. Volgens hulle is 'n "nuwe" hervorming nie 'n hervorming nie, maar 'n "omvorming" van die Christelike geloof.

Onlangs het daar in By 'n artikel oor 'n "nuwe" humanisme verskyn. Bernard Lategan, die skrywer daarvan, was op sy dag voorsitter van die departement Bybelkunde op Stellenbosch en 'n gerekende Nuwe-Testamentikus. Die gedagtes wat hy in die artikel uitgespreek het, resoneer met gedagtes wat binne die Nuwe Hervorming Netwerk gekoester word.

Binne die "nuwe" humanisme, só het Lategan verduidelik, verskuif die fokus van die mens na die mens as deel van die web van lewe. In sy eie woorde: "In die 'nuwe' humanisme verskuif die fokus van die mens na die lewe self..." Tydens die lees van hierdie woorde het ek gewonder of tradisionele Christene en by name die vermelde dogmatici ook heftig gaan reageer teen dít wat die "nuwe" humanisme propageer.

'n "Nuwe" humanisme het, na my mening, egter weinig kans om in Suid-Afrika wortel te skiet as dit nie hand aan hand loop met 'n nuwe hervorming binne die Christelike geloof nie. Binne die tradisionele Christelike geloof draai alles om mense en hul redding, geluk, voorspoed en vooruitgang. Gegewe die kennis waaroor ons tans beskik, kan die mens beslis nie meer as die sentrum van alles wat op aarde leef en beweeg, beskou word nie. Die evolusieleer het die mens van sy selfgemaakte troon gehaal en hom/haar tussen ander lewende organismes, plante en diere op aarde tuisgebring. Daar was nie 'n sondeval in die oertyd wat die totale skepping in al sy geledinge aangetas en beduiwel het nie. Dit is ook nie so dat die dood deur oermense in die skepping ingedra is nie. Dood was nog altyd deel van lewe op aarde en dood is deel van hoe hierdie kosmos funksioneer. Sterre word gebore, groei en sterf. Planete word gebore, groei en sterf. Galaksies word gebore, groei en sterf.

Lategan se artikel het my laat besef dat 'n nuwe hervorming en 'n nuwe humanisme eintlik maar twee kante van dieselfde munt is. Ons kan ook sê dat dit so onlosmaaklik met mekaar saamhang soos die binne- en die buitekant van 'n koppie, of soos weerlig en donderslag. Dit het my voorts laat besef dat 'n nuwe hervorming en 'n nuwe humanisme onafwendbaar tot 'n nuwe spiritualiteit lei. Om die waarheid te sê, 'n nuwe spiritualiteit is reeds besig om deur te breek.

Hoe lyk die nuwe spiritualiteit wat sy wortels in die nuwe hervorming en die nuwe humanisme het?

Om die vraag te kan beantwoord, moet ons eers kyk na watter betekenis ek aan die woord "spiritualiteit" heg. Spiritualiteit is vir my die wyse waarop mense hul lewens leef in terme van die kennis waaroor hulle beskik. Spiritualiteit het niks te doen met een of ander bo-aardse of spirituele domein nie. Dit het ook niks te doen met invloede vanuit daardie sogenaamde domein nie. Mense wat weet dat spesies met mekaar verband hou en uit mekaar voortvloei; wat weet dat die aarde deel is van die sonnestelsel en dat daar verskeie sonnestelsels in die melkweg is; wat weet dat daar verskeie galaksies in die heelal is, kyk eenvoudig anders na hulself, die aarde en alles wat rondom hulle leef en beweeg. Maar omdat mense ook deur 'n bepaalde geloofstradisies geslyp en beïnvloed is, sal hulle op verskillende maniere aan die nuwe spiritualiteit uitdrukking gee.

Ek meen dat Anne Primavesi die nuwe spiritualiteit wat binne die Christelike tradisie gestalte moet kry, die beste beskryf. Maar ek vind ook aanklank by Gordon Lynch se uiteensetting van dit waarop die nuwe spiritualiteit behoort te fokus. Die nuwe spiritualiteit wat voortvloei uit die nuwe hervorming en die nuwe humanisme kan nie anders as om 'n aardse spiritualiteit te wees nie. As ek een Afrikaanse lied kan uitsonder wat hierdie spiritualiteit vir my mooi verwoord, is dit die lied Katedraal van Coenie de Villiers. Die eerste strofe en refrein lui só:

In my kerk is daar geen dak nie
geen reliëf of skildery
geen kandelaar wat hoog moet hang nie
almal kan hier toegang kry,
want my koepel is die hemel
hoog genoeg vir al die sterre
breed genoeg vir die planete

hier sal jy stilte
hier sal jy vrede
hier sal jy rus by my kom kry

Ons leef slegs een maal en moet nou só leef dat ons dit vir almal rondom ons die moeite werd maak om saam met ons hier te wees. Maar ons moet ook só leef dat die geslagte wat na ons kom, ook oor die lewe op aarde opgewonde sal raak en dit sal koester.

Bibliografie

Lynch, G. 2007. The New Spirituality: An Introduction to Progressive Belief in the Twenty-first Century. London: I.B. Tauris.
Muller, P. (red) 2002. Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea Boekhuis.
Primavesi, A. 2000. Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science. London: Routledge.
Robinson, J.A.T. 1965. The New Reformation? London: SCM.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Boekblik

Boekblik

'n Unieke blik op 'n wye verskeidenheid eg Suid-Afrikaanse boeke. Boekblik bied 'n platform waar diversiteit in die boekemark ten volle ontgin word. 'n Boekwinkel in die kuberruim waar kwaliteitboeke verkoop word teen onverbeterlike pryse. Loer gereeld in die Boekblik vir 'n wyer blik op Suid-Afrikaanse boeke.
Klik. Klik. Oombliklik!

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za