Die mondelinge tradisie en die ontstaan van
die Jesus-verhaal

Deur Ds. Schalk Naudé op 1 Januarie 2012

Baie mense dink nie daaroor nie. Hulle is op 'n naïewe manier van mening dat die inhoudelike van hulle geloofsverklaringe of belydenisse, in 'n ten volle klaar geformuleerde vorm, eendag vanuit die hemel neergedaal het. Natuurlik is niks verder van die waarheid af nie. Min mense weet dat die belydenisgeskrifte was aanvanklik bedoel as doopformuliere, en dit wel in die 3de eeu. Min mense weet verder dat hierdie formuliere na 'n lang ontwikkelingsproses eers in die 4de eeu, in die finale vorm soos ons dit vandag het, gestalte gekry het. Die leerstellinge soos die "Drie-Eenheidsleer" en die "Vleeswording" was nog in 'n proses van omskrywing tot in die 5de eeu.

Om dinge nog meer gekompliseerd te maak is dat Bybelnavorsers tans van mening is dat die wonderwerke wat in die Jesus-verhaal voorkom, eers in die 7de en 8ste dekade bygevoeg is. Die begrippe maagdelike geboorte en die suggestie dat die opstanding 'n werklike liggaamlike opstanding was, is produkte van die 9de dekade. Daar word ook beweer dat na alle waarskynlikheid het die gedagte van Jesus se hemelvaart eers in die 10de dekade 'n tradisie geword. Dit is alles ontnugterende gedagtes wat nog verder ondersoek moet word.
Maar miskien is die grootste soeke dié na ons kennis en verstaan van Jesus, gedurende die jare 30/33 nC – toe sy aardse lewe tot 'n einde gekom het – en 70 nC toe die Evangelies in geskrewe vorm finale beslag gekry het.

As ons vandag die vier Evangelies in kronologiese tydsorde wil plaas dan word algemeen aanvaar dat eerstens die Markus Evangelie in die vroeë 70's nC ontstaan het en daarna die Evangelie van Matteus tussen 80 en 85 nC. Die Evangelie van Lukas is tussen 88 en 92 nC en die Johannes Evangelie tussen 95 en 100 nC geskryf. Word hierdie verhale dan in hierdie bepaalde kronologiese tydsorde gelees sal jy gou agterkom hoe die buitengewone meer en meer uitgelig word, hoe die detail hiervan al hoe meer aanskoulik voorgestel word en hoe die bo-natuurlike meer en meer voorgestel word.

Die vraag wat by navorsers opgekom het is dat as die Jesus-verhaal so dramaties kon ontwikkel vanaf 70-100 nC, hoe dramaties het dit dan nie ook ontwikkel in die jare 30-70 nC nie? Dit is 'n moeilike vraag want ons het geen verwysingsbronne van daardie jare tot ons beskikking nie. Al wat toe bestaan het (soos algemeen aanvaar word) was dat daar toe slegs mondelingse vertellinge bestaan het en daarvan het ons geen dokumentasie nie. Dit is dan juis oor hierdie mondelingse vertellinge en tydperk van 40 jaar (die jare tussen 30-70 nC) waaroor daar tans baie bespiegel en navorsing oor gedoen word.

Die probleemvraag is dan: hoe kan daar sinvol te werk gegaan word om iets te probeer verstaan van hoe hierdie mondelinge tradisie en tydperk werklik geïnterpreteer en ontleed behoort te word? Kom jy nie maar voor dooiemans deur te staan nie? Beland jy nie op die einde in 'n doodloopstraat nie? Dit is natuurlik alles geldige vrae. Tog is daar wel 'n sekere aantal leidrade wat dalk vir ons oor hierdie 40 jaar tydperk van mondelinge vertellings moontlike antwoorde kan gee.

Die ooglopende en feitlike is, dat die verhaal van Jesus op die een of ander wyse van geslag tot geslag oorgedra is, anders sou ons dit nie vandag gehad het nie. Die vraag is egter: deur wie, hoe en in watter konteks en omstandighede is dit oorgedra? Was dit persoonlike individuele ervaringe wat oorgegaan het in mondelinge oorvertellings? Het ouers die Jesus-verhaal aan hulle kinders in hulle onderskeie huishoudings oorvertel soos wat Piper beweer? Is die verhaal op die markplein van die een persoon na die ander persoon oorvertel?
Was dit die dissipels wat Jesus se woorde bewaar het omdat hulle lewens daarop gegrond was, óf was dit ander mense wat so deur die verhale van Jesus se wonders aangegryp is dat hulle dit wou laat voortleef?
Is Andries van Aarde korrek as hy beweer dat daar 'n moontlike grafkultus in Jerusalem ontstaan het, en dat die verhale rondom Jesus so oorvertel is? Of het die oorvertellinge dalk eerder in die kleinboerdery gemeenskappe in Galilea ontstaan, soos wat Mack en Horsley beweer?
Of moet ons eerder in ons besinning rondom die oorsprong van hierdie 40 jaar tydperk van mondelinge oorvertellinge gaan soek in die samehang van Israelitiese, Christelike en Gnostiese spreukeversamelings soos wat Kloppenberg beweer?

Hoe dit ook al sy, kyk 'n mens egter na die inhoudelike en die konteks van die evangelie-verhale is dit duidelik dat hierdie verhale baie meer kompleks en gestruktureerd is as wat dit op die oog af lyk en dat dit daarom die moontlikheid van sommer net individuele of persoonlike informele oorvertellings eintlik uitskakel. Boonop is die evangelies aanvanklik almal in Grieks geskryf en dit skakel die skrywe daarvan deur gewone burgerlikes in Palestina (wat soos Jesus en sy dissipels net Aramees gepraat het) heeltemal uit. Verder kom die vroegste volledige kopieë van die evangelies wat tot ons beskikking is, eers uit die 6de eeu nC. Daar is wel 'n aantal fragmente en aanhalings beskikbaar wat vroeër gedateer word. Die evangelies is ook nie deur ooggetuies van die destydse gebeure geskrywe nie, maar wel deur 'n tweede en in die geval van Johannes 'n derde generasie gelowiges. Ons sal dus ander opsies moet oorweeg as ons by 'n moontlike antwoord oor die ontstaan van die 40 jaar lange tydperk van mondelinge vertellings wil uitkom.

Wat verder van belang is, is dat wat die evangelies betref ons nie regtig weet wie die werklike skrywers daarvan was nie. Tog het elke evangelie 'n sterk persoonlike en unieke aard. (Terloops: wat die Evangelie van Johannes betref is navorsers al hoe meer daarvan oortuig dat daar ten minste drie redaksionele bronne kon wees wat dan ten minste drie unieke persoonlikhede veronderstel.)

Uit die Evangelies kon ons dit ook verder aflei dat voordat die verhaal van Jesus in geskrewe vorm ontstaan het, was daar al 'n baie sterk gevestigde tradisie rondom die Hebreeuse geskrifte. Dít kan nie sommer ongesiens daar gelaat word nie.
Voeg daarby die feit dat toe die Evangelieskrywers uiteindelik die geboorteverhale neergeskryf het, was dit beslis nie bedoel om 'n historiese weergawe van gebeure te wees nie. Hierdie verhale was eerder geïnterpreteerde sketse wat gebaseer is op bekende Joodse verhale. Die skrywers het dus stories uit die ou Joodse verlede gaan haal, dit aangepas en om watter rede ook al dit van toepassing op Jesus gemaak, in 'n taal en styl wat vir die lesers daarvan aanvaarbaar sou wees.
Hieroor skryf Helmut Koester:

"Strangely enough, the first oral tradition is not an attempt to remember exactly what happened, but is rather a return into the symbols of the tradition that could explain an event. Therefore, one has to imagine that legend and myth and hymn and prayer are the vehicles in which oral traditions develop. The move into a formulated tradition that looks as if it was a description of the actual historical events is actually the end result of such a development."1

Kom ons kyk hoe die onderskeie Evangelie-skrywers die Hebreeuse geskrifte doelbewus gebruik het:

1.  Markus, die Evangelie wat eerste geskryf is, aan waarskynlik 'n gemeenskap in Rome, begin sy verhaal deur twee aanhalings van die Hebreeuse profete aan te haal. Die een kom uit Maleagi en die ander uit Deutero-Jesaja (Jesaja 2). Daarna bou hy sy verhaal oor Jesus verder uit deur die een na die ander beeld uit die Joodse geskrifte te gebruik.

2.  Matteus, wat tweede geskryf is en vir waarskynlik 'n tradisionele Joodse gemeenskap, veronderstel in sy weergawe dat alles wat met die jong seun Jesus gebeur het, op die een of ander wyse 'n vervulling van die woorde van die profete van ouds is. Vyf maal in sy geboorteverhaal van Jesus, beklemtoon hy dat sekere gebeure plaasgevind het sodat die "woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word" (Matteus 1:22; 2:5; 2:15; 2:17; 2:23). Hierdie onderskeie gedeeltes handel oor die geboorte en naamgewing van Jesus met Jesaja 7:14 as agtergrondteks by Matteus 1:22. So ook die besoekers aan Betlehem met Miga 5:1; die vlug na Egipte met Hos. 11:1; die kindermoord in Betlehem en omstreke met Jer. 31:15 as agtergrondtekste. Op die koop toe word in Matteus 2:19-23, wat handel oor die terugkeer van Egipte, dan vyfdens sommer 'n fiktiewe profeet aangehaal. Matteus probeer dus sy bes om sy verhaal volgens Ou Testamentiese gebeure te konstrueer om daardeur die verhaal vir sy Joodse gemeenskap so aanvaarbaar as moontlik te maak. Daarom skets hy sy interpretasie van die jare rondom die geboorte van Jesus teen die agtergrond van 'n wye Ou Testamentiese sikloramiese doek.

Matteus neem byvoorbeeld die maagdelike konsep oor deur 'n verkeerde vertaling van Jesaja 7:14 in Matteus 1:18-25 te gebruik. (Lukas het ongelukkig hierdie fout uit Matteus herhaal in Lukas 1:26-38.) Die wyse manne in Matteus 2:1-12 kom uit Jesaja 60 met 'n addisionele insetsel wat gekry is van die koningin van Skeba se besoek aan Salomo in 1 Konings 10. Terloops, daar is nêrens sprake in die Sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas) dat die wyse manne uit die Ooste met kamele op pad na Jerusalem gereis het nie. Die kameel-gedagte kom wel in bg. twee tekse in Jesaja 60 en 1 Konings 10 voor. Die ster is waarskynlik gaan haal uit die Bileam-Balak storie in Numerie 22-24 en ook uit ander tradisioneel bekende verhale van die Jode.

Die bekende Bergpredikasie in Matteus 5-7 is skynbaar ook 'n uitbouing van Psalm 119 en stel Jesus daarin as die nuwe Moses voor.

Matteus en Lukas verskaf ook aan ons hulle onderskeie geslagsregisters van Jesus waarin hy onderskeidelik voorgestel word as uit die geslag van Abraham en koning Dawid. Hulle haal ook elkeen Jesus aan, as hy deur Satan in die woestyn versoek word, deur aanhalings uit die Hebreeuse geskifte te gebruik waarmee Jesus dan vir Satan sou teenstaan.

3.  Lukas, wat 'n paar jaar na Matteus geskrywe is en wel vir 'n meer wydverspreide gemeenskap, moduleer sy verhaal oor die lewe van Jesus, deur 'n paar maal vir Elia as voorbeeld te gebruik. Verder vertel Lukas by twee geleenthede, dat die bedoeling en rol wat die opgestane Jesus moes vervul, was om die mense se verstand te open sodat hulle die skrifte kon verstaan en kon sin maak uit Jesus se dood.

Ons kan verder aflei dat die skaapwagters in Lukas 2:1-20 ingeskryf is omdat dit iets wou sê van die assosiasie wat daar bestaan het tussen Dawid en Betlehem – die skaapwagter wat koning geword het. Die loflied van Maria in Lukas 1:46-55 was waarskynlik oorgeneem uit die lied van Hanna in 1 Samuel 2:1-10. Die storie van die swanger Maria se besoek aan Elisabeth in Lukas 1:39-45 is dalk oorgeneem uit die storie van die swanger Rebekka met Esau en Jakob in Genesis 25:19-26. Ook die hele Josef karakter in Matteus 1 en 2, die aardse vader van Jesus met al sy drome, is geneem en aangepas uit die antieke verhaal van Josef die dromer, in Genesis 37-50. En so kan 'n mens aangaan.

4.  Johannes, die vierde Evangelie, wat moontlik in 95-100 nC vir 'n meer teologies-ontwikkelde gemeenskap (waarskynlik in Efese) geskryf is, begin sy verhaal met 'n pryslied vir die "Logos" of die "Woord", omdat Johannes glo dat dit op Jesus van toepassing is. Hierdie pryslied is gebaseer op 'n lied vir die wysheid uit die Spreuke-boek. Johannes laat Jesus ook telkens die "Ek is" (naam van God) gebruik wat aan Moses by die brandende braambos gegee is om sy eie interpretasie van die goddelikheid van Jesus te versterk.

'n Mens kan dus nie die evangelies lees sonder om daarmee saam ook die aanhalings uit die Hebreeuse geskrifte (vir watter doel ook al) in ag te neem nie. Dit alles dui baie sterk op die (moontlike?) invloed wat die tydperk van mondelinge oorvertellinge op die skrywers van die evangelies kon gehad het.
John Shelby Spong (by wie baie gaan leen het oor hierdie kwessie) kom dan tot die gevolgtrekking dat:

"The only setting in which this interweaving of the Jesus story with the Hebrew scriptures could have occurred was in the synagogue, since that was the only place where people heard the scriptures read and interpreted."

Kom ons kyk bietjie meer na hierdie moontlikheid.

In die eerste eeu het niemand boeke besit waaruit hulle kon leer nie. Weinig mense kon regtig lees en skryf. Die boeke van die Joodse Bybel moes deur 'n pynlike proses van handgeskrewe kopiëring op groot rolle plaasvind. Hierdie rolle was baie duur om te bekom en was die gewaardeerde besitting van die hele gemeenskap. Die rolle is in die tabernakel van die sinagoge bewaar en was met groot seremonie oopgerol as daaruit tydens publieke aanbiddingsgeleenthede op die Sabbatdag voorgelees is. Voorlesings, wat streng nagekom is, het gekom uit bepaalde voorgeskrewe gedeeltes vir die onderskeie Sabbatsvieringe. Daar is nie van hierdie voorgeskrewe tradisie afgewyk nie. Daarvoor was daar te veel respek vir die inhoud van en die boekrolle self. Die handvatsels van hierdie rolle is pynlik presies gebruik om die spesifieke boekrol mee oop te rol as 'n manlike voorleser daaruit voorgelees het. Hy sou dan ook presies daar begin waar hy op die vorige Sabbat met die voorlesing ge-eindig het.

Min van ons het regtig enige idee of kennis oor wat die spesifieke liturgie was wat in die eerste eeu in die sinagoge gebruik is. Ons sukkel daarom om 'n voorstelling te maak van hoe hierdie aanbiddingsgeleenthede ingekleur was. Gelukkig is daar 'n kort beskrywing in die boek Handelinge (13:14-17) wat vir ons 'n moontlike idee kan laat vorm van wat daar tydens hierdie mondelingse vroeë Christelike tydperk, plaasgevind het.

"Op die sabbatdag het hulle (Paulus en sy reisgenote) na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: "Broers, as julle vir die volk 'n woord van bemoediging het, praat maar..." Paulus het toe opgestaan, met 'n handbeweging aandag gevra en gesê: "Israeliete en godsvresendes, luister! Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle 'n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het..."

Aanbiddingsgeleenthede in die sinagoge het bestaan uit lang voorlesings uit die drie hoofdele van die Hebreeuse Bybel. Die eerste voorlesing het gekom uit die Torah van Moses. Dit was natuurlik die boeke Genesis, Eksodus, Levitikus, Numerie en Deuteronomium. Daar was blykbaar vir die eerste eeuse Judaïsme 'n voorgeskrewe reël waarvolgens tydens publieke aanbiddingsgeleenthede op die Sabbat, in die sinagoge en tydens 'n enkele jaar, uit die hele Torah, wat beskou is as die heiligste deel van die Hebreeuse geskrifte, voorgelees moes word. Dit sou beteken dat hierdie eerste voorgeskrewe en voorgelese gedeelte maklik 30 minute op elke Sabbatdag in beslag sou kon neem.

Die tweede voorgeskrewe gedeelte het gekom uit wat die Jode die "Vroeëre Profete" genoem het. Hierdie gedeelte het bestaan uit die boeke Josua tot en met 2 Konings. Daar was by die lees hiervan geen dringendheid om hierdie spesifieke gedeeltes in 'n bepaalde tydsduur klaar te lees nie aangesien hierdie gedeeltes baie korter was. Die gedeeltes is bloot sinkronies en agtereenvolgens gelees en as daarmee klaar was is weer op die volgende Sabbatdag van voor af begin.

Die derde voorgeskrewe gedeelte het gekom uit wat bekend staan as die "Latere Profete" naamlik Jesaja, Jeremia, Esegiël en die Boek van die Twaalf. Laasgenoemde staan vandag bekend as die "kleinere profete" en word afsonderlik gelys as die boeke Hosea tot en met die laaste boek in die Ou Testament, naamlik Maleagi.
Hierdie twaalf boeke was almal op 'n enkele boekrol geskrywe en is beskou as een werk. Gevolglik is die vier gedeeltes van die "Latere Profete" (Jesaja, Jeremia, Esegiël en die Boek van die Twaalf) oor 'n vier jaar siklus gelees; moontlik 'n hoofstuk vir elke Sabbat. Een jaar sou dan byvoorbeeld die Jesaja-jaar wees, een jaar die Jeremia-jaar, gevolg deur die Esegiël-jaar en afgesluit met die Boek van die Twaalf in die vierde jaar.

Met die liturgie wat in die Sinagoge gevolg is, het hierdie drie hoof-voorlesings, saam met 'n veelheid van gebede en Psalms die kern van die aanbiddings-geleentheid uitgemaak.

Nadat die laaste voorlesing voorgelees is, sou die leier van die Sinagoge gewoonlik vra, soos in Hand. 13, of daar dalk iemand is wat 'n boodskap het om die oggend se voorlesings verder toe te lig. Dit was dan moontlik vanuit hierdie konteks waarvolgens Jesus se volgelinge stories oor Jesus sou vertel en waar hulle van sy uitsprake en gelykenisse in herinnering sou roep. Moontlik is op hierdie wyse bygedra tot die verdere ontwikkeling van die Jesus tradisie. Deur die jare is die Hebreeuse geskrifte dan ook algaande op Jesus van toepassing gemaak en is Jesus daarvolgens geïnterpreteer. Die manier hoe hulle dus vir Jesus op 'n positiewe wyse in herinnering geroep het, is deur die liturgie wat in die Sinagoge gevolg is, aangehelp. Om dit werklik te besef is 'n baie belangrike element in die verstaan van die tydperk van mondelinge vertellings van die vroeë Christene.

Toe die evangelies dan uiteindelik geskryf is, was die herinneringe aan Jesus al moontlik sodaning beïnvloed deur dit wat alles in die Sinagoges vertel is, dat dit vandag baie moeilik is om geskiedenis en die interpretasie van die Hebreeuse geskrifte van mekaar te onderskei. Dit is wat die aanhoudende soeke na die ware historiese Jesus so moeilik maak.

"The point must be heard: the Gospels are first-century narrations based on first-century filtering of the experience of Jesus. They have never been other than that. We must read them today not to discover the literal truth about Jesus, but rather to be led into the Jesus experience they were seeking to convey. That experience always lies behind the distortions, which are inevitable since words are limited. If the gospels are to be for us revelations of truth, we must enter these texts, go beneath the words necessary, discover the experience that made the words necessary, and in this manner seek the meaning to which the word point. One must never identify the text with the revelation or the messenger with the message. That has been the major error in our two thousand years of Christianity." (Spong: 1999:107)

So het die slotsom waartoe die lede van die Jesus-seminaar gekom het dan ook 'n groot opskudding veroorsaak toe hulle gekonkludeer het dat slegs 16% van al die "spreuke" wat aan Jesus toegedig word werklik as outentiek en akkuraat aanvaar kan word. Die ander 84% is nie oorspronklike woorde van Jesus nie, maar wel woorde wat deur die gemeenskap van die mondelinge tradisie by wyse van hulle interpretasie aan Jesus toegedig is. Ook baie van dit wat die evangelies verhaal as synde dat dit "dade" van Jesus was, val in 'n soortgelyke kategorie.

Van die vrae wat hierdie navorsers dan oor getob het, was:

So kan 'n mens aan en aan gaan en telkens weer dieselfde vrae vra oor al die stories, spreuke en dade wat aan Jesus toegedig is en rondom Hom geweef is.

Gaan 'n mens op so 'n manier dan by die regte Jesus uitkom?2 Of bly ons steeds saam met Johan Cilliers vra: Sal die regte Jesus asseblief opstaan? Die bekende en uitgesproke teoloog, Rudolf Bultmann (1884-1976) was hieroor baie krities to hy gesê het:

"I do indeed think that we can now know almost nothing concerning the life and personality of Jesus."

Was hy reg of verkeerd? Dit is moeilik want hoe stroop ons Jesus van al die formuliere en belydenisse en dogmas waarmee Hy toegedraai is en hoe ontdek ons die ware historiese Jesus in die Evangelies? Hopelik is ons tog miskien besig met 'n proses waardeur ons Jesus dalk vir die eerste keer waarlik sal sien vir wie Hy was. Om Rudolf Bultmann in 'n ander konteks aan te haal is dalk gepas. Hy het al dekades gelede gepleit dat ons die Bybel moet ontmitologiseer sodat dit vir die moderne mens meer geloofwaardig en aanvaarbaar kan wees. Dit is ook dieselfde gedagtes wat ek by Karen Armstrong lees in haar nou al bekende boek A Case for God.

Dit is dus by 'n noukeurige lees van die Evangelies baie duidelik dat elke skrywer 'n spesifieke invalshoek gebruik het en dat elkeen ook 'n spesifieke fokus gehad het. Dit is nie geskiedskrywing nie. Dit is geïnterpreteerde verhale rondom ervaringe van mense wat binne 'n bepaalde konteks weergegee word. Ons moet ons nie laat verwar oor al die aanhalings uit Hebreeuse geskrifte as synde dat dit vervullings van profesieë sou wees nie. Algaande weet ons nou dat daar eintlik "geen verwysings na Jesus in die Ou Testament is nie, omdat die Ou Testament nie 'n waarsêersboek is wat die verre toekoms probeer ontsluit nie." Bestudeer 'n mens wel die profesieë in die algemeen dan weet ons verder dat "geen profesie in die Bybel het 'n 'rakleeftyd' van meer as 40-50 jaar gehad nie. Dit was altyd bedoel vir die spesifieke gehoor teenoor wie dit uitgespreek is om in hulle leeftyd in vervulling te gaan" skryf my Facebook vriend Ralph Barnard.

Maar die soektog oor die verstaan van Jesus en die moontlike invloed wat die mondelinge tradisie kon gehad het, gaan voort.3 Daarom sien ek met verwagting daarna uit om die nuwe boek van John Shelby Spong: Re-Claiming the Bible for a Non-Religious World te lees, maar ek sien op die internet dat die boek reeds uitverkoop is...!
Die wêreld is inderdaad soekend en honger vir die waarheid, want die mondelingse tradisie gaan steeds voort.
Soos Helmut Koestner dit treffend stel:

"But even the writing down of a story at one point does not mean that it is now fixed. Because we go from telling of a story to writing of a story, but that written story is now used again in the telling of the story in a new liturgical situation. So that the next process of writing would look different than the first writing in fact was. And therefore we can not just simply talk about a tradition that was once oral and then it's fixed..."

Amen.

Bronne

  1. John Shelby Spong, by: http://johnshelbyspong.com/sample-essays/jesus/
  2. Gerhard Nel, Die soeke na die betekenis van Q: Inleidende opmerkings oor die geskiedenis van Q-navorsing by: www.hts.org.za/index.php/HTS/article/view/655/556
  3. L. Michael White, professor of Classics and Director of the Religious Studies Program University of Texas at Austin, by: www.pbs.org/wgbh/pages/frontline/shows/religion/story/oral.html
  4. Helmut Koester, John H. Morison Professor of New Testament Studies and Winn Professor of Ecclesiastical History Harvard Divinity School, by:
    www.pbs.org/wgbh/pages/frontline/shows/religion/story/oral.html
  5. John Shelby Spong, Why Christianity must change or die. 1999.

Schalk Naudé, afgetrede NG predikant.
E-pos:

Voetnotas

1.  En verder ook: "Only the later writer would bring a report about Jesus' suffering that has the semblance of the report of the actual events, one after another, that happened. One could, for example, imagine that the oldest way in which the early Christians told about Jesus' suffering and death was the hymn that Paul quotes in Philippians 2, about the one who was in the form of God who humiliated himself and was obedient even to death on the cross, and was therefore raised high up by God. This was a very old hymn. Paul quotes this hymn when he writes Philippians, that is, in the early 50s of the first century. He quotes this as a hymn that probably was sung in the Christian communities, ten or twenty years earlier. That is the way in which you first tell the story. And that you tell the story in the form of a hymn also shows that the telling of the story is anchored in the worship life of the community. So here is really the beginning of the oral tradition. And it becomes story as it is retold, resung ... It could be resung as a hymn, but retold as a narrative, again in the worship setting of the community."

2.  "Volgens Mack, het die mense tydens die vroeë mondelinge tydperk eintlik net nagedink oor die lewenswyse van Jesus. Vir hulle was Jesus meer 'n wysheidsleraar as wat Hy die Messias (Christus) was. Die vroeë Jesus-volgelinge het Jesus se dood nie as goddelik, tragies of as 'n reddende handeling beleef nie. Hulle het aan Jesus gedink as 'n wysheidsleraar aan wie se leringe hulle vasgehou het om in tye van vervolging te oorleef. Die vroegste Jesus-beweging ontstaan in 'n tyd toe militêre en politieke mag gereeld verskuif het. Volgens Mack was hierdie tyd ryp vir eksperimentering met vrye assosiasie oor etniese en kulturele grense heen. Dit was 'n era waarin talle godsdienstige en filosofiese ondernemings verskyn en waarin talryke klein sosiale eenhede (koinonia) ontstaan met 'n soeke na wat Mack "etiese kameraadskap" noem en waarin die bewaring van kultuur ook 'n rol speel." (Mack 1993:53, 67, 105-106).

3.  "So oral tradition develops as the community looks for a recreation of memory in community life. The same thing also happens to the words of Jesus as they are remembered, because the words of Jesus are not remembered in order to record Jesus' wonderful preaching, but they are remembered in order to find in the words of Jesus wisdom for the ordering of the life of the new community ... and what does not serve such purpose would not enter the oral tradition..."

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Boekblik

Boekblik

'n Unieke blik op 'n wye verskeidenheid eg Suid-Afrikaanse boeke. Boekblik bied 'n platform waar diversiteit in die boekemark ten volle ontgin word. 'n Boekwinkel in die kuberruim waar kwaliteitboeke verkoop word teen onverbeterlike pryse. Loer gereeld in die Boekblik vir 'n wyer blik op Suid-Afrikaanse boeke.
Klik. Klik. Oombliklik!

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za